HTS Middelburg leerder ontvang die Vasbyt-trofee
ADVERTISEMENT
Ware vasbyt word nie gemeet aan hoe vinnig jy hardloop, hoe hoog jy spring of hoeveel punte jy behaal nie – dit word gemeet aan hoe diep jy kan delf wanneer dinge moeilik raak; aan jou vermoë om aan te hou, selfs wanneer die pad steil teen die berg uitloop. Gerhard van Niekerk van HTS Middelburg is ’n besonderse jong man wat hierdie eienskappe elke dag leef. Ten spyte van liggaamlike en gesondheidsuitdagings wat sy bewegings beperk, het hy nooit toegelaat dat dit sy drome, sy deelname of sy gees aan bande lê nie. Vir vyf jaar het hy volgehou in ’n groot skool met baie trappe, lang gange en ’n sterk fokus op sport – ’n omgewing wat nie altyd maklik of toeganklik was nie.Máár waar ander struikel, het hy vasgestaan. Waar dinge moeilik geraak het, het hy met ’n glimlag voortgegaan. Sy volharding, sy deursettingsvermoë en sy ongelooflike ingesteldheid het nie net sy eie pad ligter gemaak nie, maar ook dié van almal om hom. Hy het sy klasmaats, sy personeel en elkeen wat sy pad gekruis het, geleer wat dit beteken om moed te hê – om te kies om elke dag op te daag en altyd jou beste te gee, al is dit nie maklik nie. Gerhard se verhaal is nie een van jammerte nie, maar van opregte bewondering. Hy het gewys dat vasbyt nie daaroor gaan om altyd eerste te wees nie, maar om nooit op te gee nie. Sy lewe getuig van ’n stille krag, ’n onwrikbare gees en ’n geloof dat elke uitdaging oorkom kan word as jy dit met hoop en vasberadenheid aanpak. Daarom word die Vasbyt-trofee met groot trots aan Gerhard toegeken – vir sy ongelooflike deursettingsvermoë, sy onwrikbare moed en sy inspirasie aan elkeen wat die voorreg het om hom te ken.










