Hoërskool Zwartkop Eko Klub ondersteun Chamberlain “Plant it Forward” Spekboom Projek
ADVERTISEMENT
Chamberlain, ‘n gerespekteerde besigheidsvennoot in die Zwarrie-omgewing, het as deel van hulle korporatiewe omgewingsbestuursverpligtinge, hulself gebind tot die inperking van hul koolstofvoetspoor. Chaimberlain beoog om ongeveer 21 000 spekbome (Portulacaria Afra), op maatskappy se eiendomme te plant en om ‘n verdere 19 000 spekbome onder ‘n innoverende konsep, “Plant it Forward”, gratis onder lede van die gemeenskap te versprei.
Die Zwarrie Eko-Klub het bygedra deur 500 spekboom steggies te kweek en aan toekomstige Zwarrie-leerlinge tydens ons opedae te skenk. Daarmee saam het ons ‘n verdere 74 spekbome op die skoolterrein geplant terwyl die klub 32 spekboom bonsais gemaak het om aan spesiale Zwarrie-vriende te skenk.
Teen die agtergrond van ons noue verbintenis met spekbome, het die Eko-Klub saam met Chaimberlain hande gevat deur 1000 spekboompies wat deur Chaimberlain geskenk is, onder ons leerlinge en personeel te versprei met die oog op die “Plant it Forward” konsep.
“Plant it Forward” is ‘n welwillendheidsbeginsel en hierdie projek het gewys dat ons met een spekboom en een goeie daad op ‘n slag, die wêreld ‘n beter plek kan maak.
Ons wil graag die geleentheid gebruik om Chamberlain se mnr. Werner Wehrmann, mnr. Johan Zwarts, mnr. Magnus Creighton, mnr. Lwazi Mthumkhulu en me. Riana van der Merwe te bedank vir ‘n heerlike middag van “Plant it Forward”. Die Zwarries is dankbaar dat ons ‘n bydra kon lewer om hulle projekdoelwitte te ondersteun.










