Hoërskool Strand Roeselare besoek België
ADVERTISEMENT
Dit is reeds die twintigste jaar wat Hoërskool Strand deel is van hierdie kulturele uitreik met die Burgerschool in Roeselare, België. Dit bied elke jaar vir 12 graad 10-leerders die geleentheid om hulle horisonne te verbreed en om vriendskappe oor kontinente te smee.
Die laaste twee jaar kon die twee groepe leerders wat in 2020 en 2021 gekies is om op hierdie kulturele uitruilprojek tussen die twee skole te gaan, as gevolg van die Covid-19-pandemie nie hierdie droom verwesenlik nie. Hulle het egter nooit moed verloor nie en bly glo en hoop dat hulle wel op die uitruilprojek na Burgerschool in Roeselare, België kan gaan. Op 17 Januarie 2022 het hulle die groen lig gekry dat die grense oopgemaak het en dat die laaste twee jaar se groepe wel van 17 Maart tot 4 April na België kan vertrek. Een van die vereistes was dat hulle wel hul twee inentings moet kry. Niks kon hierdie ywerige leerders keer nie. Ongeveer almal was toe reeds ten volle ingeënt.
Die twee onderwysers wat hul sal vergesel, is mev. Lynette Wolff en mev. Juliana Louw. Die groep skop hul oorsese reis met twee weke in België af, waar die Belge hul met ʼn ongelooflike program inwag. Hulle gaan Antwerpen, Brussels, Brugge, Ghent, Ieper, Leuven en nog baie ander besienswaardighede in België besoek. Hulle is ook gelukkig om drie dae in Parys (Frankryk) deur te bring, waar hulle die stad en Euro-Disney gaan verken. Die groep gaan ook ʼn skool besoek en ʼn stukkie van Suid-Afrika met hulle deel. Wat die program so uniek maak, is dat die leerders in die Belge se huise tuisgaan en daar leef, eet en ervaar wat Belge as alledaags beskou. Ons sien uit na ʼn opwindende reis en om nuwe vriende te maak.
Voor: Lynette Wolff, Louie Smit, Moninké Heyns, Clint Williams, Rosa Louw, Anne Swart, Amelia Lewies, Ilené Fourie, Martina Fouché, Nina Esterhuysen, Karla van Jaarsveld, Caro Louw, Mea Robertse, Atala van Coller, Juliana Louw Agter: Herman Wolff, Rikus Heyns,Eben Botes, Brendon van Rooyen, Megan Strickland, Christian de Jager, Zack Barnard, JD le Roux, Nika Westenraad, Aneldi Morkel, Marlé Hubinger, Jos Louw










