Hoërskool Framesby was die gasheerskool van die Oos-Kaapse Dink of Sink uitdunne
ADVERTISEMENT
Op Saterdag 17 Mei was Hoërskool Framesby weer die gasheerskool van die Oos-Kaapse uitdunne van die opwindende Dink of Sink-skoledebatskompetisie. Dit is vanjaar die derde keer dat Framesby hierdie bekende kompetisie, wat deur Afriforum geborg word, aanbied. Verskeie skole het deelgeneem. Framesby het met 8 deelnemende spanne met drie spanlede elk gespog. Na `n middag van debatte – waar elke span aan drie debatte deelgeneem het, is die finaliste die aand tydens die finaal aangekondig. Ons is baie trots om te kan sê dat twee van ons junior spanne, Framesby 1 en Framesby 2, as die twee finaliste in die junior afdeling aangewys is, waarna hulle mekaar in die finaal die stryd aangesê het. Na `n naelbytdebat is Framesby 1 met Minette van Zyl, Jemima Oosthuizen en Jani van Heerden as die wenners aangewys. Framesby 2 met Micaela Potgieter, Bernard Janse van Rensburg en Danté Fourie eindig as naaswenners.
Framesby se senior spanne het nie teruggestaan nie, en Framesby 1 met Alouise Vosloo, Therese Otto en Alexia Meiring word tydens die finaal as naaswenners aangewys. Die wenners en naaswenners in die kompetisie stap weg met `n pragtige trofeë, sertifikaat en geskenkbewys. Minette, Jemima en Jani dring dan ook deur na die nasionale finaal van die kompetisie wat in September in Gauteng plaasvind. Ons is ook baie trots op `n rits leerders van ons skool wat as tydhouers en voorsitters tydens die debatte opgetree het en hul uitstekend van hul taak gekwyt het. Ons bedank ook graag vir ‘n Framesby-leerder, Paul van Heerden, vir die pragtige kitaarsolo wat hy as gaskunstenaar tydens die geleentheid gelewer her.












