Gereformeerde Skool Dirk Postma behaal 2de plek in die RoboMission kompetisie
ADVERTISEMENT
Gereformeerde Skool Dirk Postma behaal tweede plek in die RoboMission Junior-afdeling tydens internasionale robotika-kompetisie. Die afgelope Saterdag, 1 Augustus, het Hendrik Boersema, Etienne van Alten en Lemar Boersma Gereformeerde Skool Dirk Postma by die Gauteng-provinsiale rondte van die World Robot Olympiad by Curro Aurora in Randburg verteenwoordig.
Die World Robot Olympiad is ‘n internasionale robotika-kompetisie. Meer as 70 000 spanne uit meer as 95 lande neem elke jaar in verskillende wêrelddele daaraan deel. Vanjaar se tema is “Robots Meet Culture” dit het alles te doen met robotte wat help om ons kultuur en erfenis te bewaar.
In die RoboMission Junior-afdeling moet ‘n span van twee of drie leerders ‘n robot bou én programmeer wat heeltemal op sy eie kan werk. Geen afstandbeheer nie. Die robot moet ‘n baie spesifieke grootte wees en nie swaarder as 1,5 kilogram weeg nie.Die naam van hierdie jaar se opdrag is “Heritage Heroes”. Die robot moet op ‘n kaart van ‘n ou vesting hoog bo die see ry. Hy moet verskillende “missions” doen – besoekers begelei, gebreekte torings herbou, paadjies skoonmaak en kosbare museumstukke veilig na die museum vervoer — alles binne twee minute.
Van links na regs_ Lemar Boersma, Hendrik Boersema, mev Minette Lemmer en Ettienne v Alten
Voor elke rondte word die veld bietjie verander, sodat mens nie net een kode kan skryf nie. Aan die begin van die dag word daar ook ‘n verrassingsreël afgekondig wat die spanne nog nooit vantevore gesien het nie.Dirk Postma se span het nogal die verrassingreël en ‘n hele stuk van die uitdaging reggekry en daardeur tweede plek in die RoboMission Junior-afdeling vir die dag behaal.Die skool gee die eer aan die Here vir die gawes wat Hy gee en die geleentheid om dit te gebruik.
Die Nasionale Finaal vind op 12 September in Gauteng plaas, en die top-spanne op die nasionale ranglys word teen einde Augustus daarheen genooi.Gereformeerde Skool Dirk Postma is ’n onafhanklike Christelike en Afrikaanse skool in die Moot, Pretoria.










