Salix-Sangers HS Die Wilgers sing nasionale a capella
ADVERTISEMENT
Salix – Latyn vir Wilgerboom. Die Salix-sangers is oorspronklik deur juffrou Erna Grove in 1985 gestig en is jare later weer deur een van haar oud-leerders wat ook nou ’n onderwyseres by Hoërskool Die Wilgers is, aan die lewe gebring. Juffrou Marieke Buys deel graag haar passie vir musiek met haar leerders en sê dit is vir haar ’n baie groot eer om jare later so ’n groot projek te kan laat voortleef.
Serenade is ’n mengsel van musiek en toneelspel. Dit is ’n groep van 10-20 leerders wat sonder enige begeleiding in harmonieë verskeie verwerkings sing. Elke groep het ’n tema en kleredrag wat daarby pas. Die leerders gebruik slegs hul stemme en liggame om musiek en ritmes te maak. Die moeilikheidsgraad van die musiek is baie hoog en dit is ’n wonderlike geleentheid vir leerders om musikaal te ontwikkel.
Donderdag, 13 Oktober, het die Wilgies se ore in ’n see van harmonieë geswem. Die jaarlikse Animato A Capella-kompetisie se finaal het by Hoërskool Die Wilgers plaasgevind en dit was ’n besonderse aand om te beleef. Wilgies se eie a capella-groep, Die Salix-sangers, het vir die eerste keer sedert 2004 aan ’n sangkompetisie deelgeneem.
Ons harte bars van trots ná die Salix-sangers by Animato se nasionale finaal ’n algehele vierde plek verower het. Die kompetisie was baie sterk, maar die Wilgies het behoorlik uitgehaal en gewys waar Dawid die wortels begrawe het. Skole wat ook deelgeneem het, is: Hoër Meisieskool Oranje (eerste plek), Hoërskool Linden (tweede plek), Hoërskool Randburg (derde plek), Balmoral College, Hoëskool Generaal Hertzog en Hoërskool Noordheuwel. Ons wens hierdie skole hartlik geluk met hul pragtige prestasies. Die Salix-sangers sal weer vroeg in 2023 afskop. Wilgies moet hul ore spits vir afkondigings oor oudisietye.















