Onderwêreld-opvoering ‘n kultuurbelewenis vir Hoërskool Volksrust leerders
ADVERTISEMENT
Vroeg Donderdagoggend, 12 April 2024, het graad 12-leerders na Hoërskool Ermelo vertrek om die verhoogopvoering van die jeugroman, Onderwêreld, geskryf deur Fanie Viljoen, te besigtig. Daar aangekom het die 37 Afrikaans huistaalleerders van Hoërskool Volksrust opgewonde hul sitplekke heel voor in die EHS-ouditorium ingeneem in afwagting vir die aanvang van dié Andre Stolz produksie.
Saam met leerders van Hoërskool Ermelo, Hoërskool Piet Retief, Ligbron Akademie, Morgenzon Landbou-akademie en Hoërskool Carolina is ons leerders vermaak deur die professionele en “raakvat”-vertolking van die Onderwêreld-karakters deur die akteurs Conner McGill (Greg Owen), Francois Lensley (Chris Owen/Dok Pienaar), Dante du Plessis (Eckardt), Marijke Coetser (Rina Owen/Joan Gibbs), Jacques Erasmus (TJ Lawson) en Jaco Schoeman (Plank/sersant Botha) onder spelleiding van Andre Stolz. Hierdie kultuuruitstappie het dan ook ‘n hersieningsdoel gedien, rakende die jeugroman, Onderwêreld, wat deel vorm van die voorgeskrewe Afrikaans matriekkurrikulum vir huistaalletterkunde, met die oog op die graad 12-eksamens wat om die draai is. Graag bedank ons mnr. Hennie van Niekerk en oom Johan vir die veilige vervoer van ons leerlinge, mnr. Le Roux vir die organisering van die uitstappie en Andre Stolz Produksies vir ‘n betowerende en leersame toneelervaring. M le Roux
![]()










