Hoërskool Parel Vallei se Wegwêreld maak opslae in Dramawêreld
ADVERTISEMENT
Hoërskool Parel Vallei se Wegwêreld bied hoopvolle pelgrimstog .“’n Soeke na die lig op die horison,” is hoe bekroonde regisseur en skrywer, Darryl Spijkers, die oorsprong van Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes se nuutste tienertoneelproduksie, Wegwêreld beskryf. “Ek het by die belofte van lig begin en vandaar het hierdie hoopvolle pelgrimstog ontvou.” Dit is die grootste produksie wat hierdie ATKV-tienertoneelkampioene van 2021 en 2022 nóg aangepak het! Met ‘n kragtige ensemble en tegniese span van altesaam 45 Parel Valleiers, neem hulle vanjaar hul gehoor op ‘n wonderlike visuele reis na ‘n weggesteekte wêreld waar eensame mense saam alleen is en stilte kliphard raas.
“Al die slegte dinge wat ons gedink het met die planeet kan gebeur, het ‘n werklikheid geword. Die wêreld wat ons geken het, is weg. ‘n Klein gemeenskap het agtergebly en bewaar hulself van wat buite die stad se mure skuil. Die broosheid van die mensdom skree egter harder as die luidrugtige oordadigheid van hulle droomland en ons sien hoe hierdie vreemde groen kolonie klokslag elke Maandag melktert bak en woorde by die mark ruil op die ritme van 80’s musiek as ‘n vorm van behoud en beskerming.”

Die grootheid van die stel saam met die indrukwekkende kostuums, tegniese elemente en handpoppe asook die gebruik van musiek en dans, gekombineer met fyn, afgeronde vertolkings deur ‘n sterk groep spelers, bied ‘n tipe ontvlugting wat op briljante wyse konfronteer. “Ware lig en donker word eintlik so duidelik in ‘n wêreld waar mense glo sonder om te bevraagteken en doen sonder om te dink. As toeskouer soek jy saam na ‘n gemeenskap se dapperheid en die moed wat dit verg om dit buite die bekende te waag. Jy ontdek dat niemand net ryk of net arm is nie. Dit waaraan ons ryk en arm is, verskil net…”

Dramaturg en regisseur: Darryl Spijkers
Rolverdeling:
- Qawekhazi Samson as ‘Molobasie’
- Doline Havinga as Hanli
- Paul Strydom as Tomie
- Josh Simone as Brumulda Brummel
- Nina Strydom as Die Boekhouer
Wegwêreld is onlangs as die algehele wenners van die Playhouse Dramafees aangewys en is vanaand om 18:00 by die Durbanville Toneelfees te sien. Kaartjies is beskikbaar by die deur. Op 25 Augustus maak hulle om 20:00 ‘n draai op die Baxter-teater se verhoog vir die ATKV-tienertoneel Wes-Kaap streeksfees. Besoek gerus Webtickets om jou plek te bespreek.










