Hoërskool Parel Vallei spog weereens met twee topproduksies in die land
ADVERTISEMENT
Hoërskool Parel Vallei in Somerset-Wes het in 2021 die gesogte ATKV-Tienertoneelkompetisie gewen. Vanjaar spog hulle weereens met twee produksies onder die landswye top 10-finaliste wat tussen 3 en 8 Oktober by die Kunstekaap aan die finaal sal deelneem.
Kultuurhoof van Parel Vallei, Darryl Spijkers, is die dramaturg en regisseur van beide DIE SUSTERSKAP en mAaNmAaTs. Hy is tydens die eerste Wes-Kaapse streeksfinaal wat Parel Vallei se “5678” produksie gewen het, aangewys as die beste regisseur. Parel Valleier, Talia Roux is aangewys as die beste aktrise vir haar rol in (kant)LYNSTAAN en het ‘n week later by die tweede Wes-Kaapse streeksfinaal weer hierdie toekenning gewen, dié slag vir haar vertolking van die karakter, Nadia in DIE SUSTERSKAP. Paul Strydom in graad 11 het op sy beurt die toekenning gewen vir Beste Akteur vir sy rol in mAaNmAaTs en die ensemble van meer as 30 akteurs het behoorlik oor die verhoog gehuppel toe mAaNmAaTs die toekenning ontvang het vir Beste Ensemble!
“Die ATKV bied ‘n inspirerende platform vir dapper jongmense om nie net op nasionale vlak met mekaar te kompeteer nie, maar ook by mekaar te leer. Ons is opgewonde om die ander skole hier in die Wes-Kaap te verwelkom en die uiteenlopende stories van DIE SUSTERSKAP en mAaNmAaTs met hulle te deel,” sê Darryl.












