Onderhoude-Hoërskool Diamantveld Hokkieseuns Eerstespankaptein-De Wet Fourie
ADVERTISEMENT
Ons gesels met die hokkieseuns eerstespankaptein van Hoërskool Diamantveld– De Wet Fourie. Lees die spesiale uitgawe vir die Classic Clash tussen Diamantveld vs Noord-Kaap hier. Dis propvol spanfotos, onderhoude en al die aksie.
De Wet Fourie
Hoe was die voorseisoen vir hierdie span, en wat het dit vir julle gewys oor die groep se karakter, ingesteldheid en toewyding? Die voorseisoen was baie goed. Ons het ’n goeie voorseisoentoernooi gehad en met bronsmedaljes weggestap, waarmee ons tevrede was. Ons het egter nog baie werk gehad wat voorlê, maar vir ’n jong span het die toekoms belowend gelyk.
Wat maak vanjaar se eerstespan anders as vorige spanne, en hoekom moet ondersteuners opgewonde wees om julle hierdie seisoen te sien speel? Ons is ’n ongelooflike jong span, met net twee matrieks wat hierdie jaar hokkie speel. Ondersteuners kan dus opgewonde wees om die positiewe, jong energie van die jonger manne te sien, asook hul opgewondenheid vir die wedstryd soos min ander.
Wat gaan deur jou kop in die oomblikke voordat jy die baan of veld in jou skoolkleure betree, en wat beteken daardie geleentheid vir jou persoonlik? Vir my is dit die grootste voorreg om Hoërskool Diamantveld in ons pragtige ligblou truie te verteenwoordig. Voor ’n wedstryd is ek saam met die manne opgewonde, maar steeds rustig en doelgerig om die wedstryd voluit van die begin af aan te pak.
Elke sterk span het sy eie identiteit — hoe sal jy julle span se speelstyl, ingesteldheid en gees beskryf? Een woord: ONVERWAGS
Watter standaard het jy en jou span vir julself hierdie seisoen gestel, buiten net om wedstryde te wen? ’n Standaard van respek op en van die veld af vir ons eie spanmaats, personeel, afrigters, skeidsregters en ondersteuners, want sonder hulle kan ons nie die sport speel waarvoor ons lief is nie.
Watter wedstryd staan vir jou die meeste uit op die kalender, en wat maak daardie wedstryd so belangrik vir die span? Definitief ons Interskole teen Hoërskool Noord-Kaap. Die gees en atmosfeer op die dag van die wedstryd is ongelooflik om te beleef, en die wedstryd is altyd van so ’n aard dat niemand tot in die laaste sekondes weet wie gaan wen nie. Dit is ’n ervaring wat ek altyd sal koester.
Wat leer hierdie sport by jou skool vir spelers wat verder gaan as net wat op die baan of veld gebeur? Die waardevolste aspek wat enigeen deur sport kan leer, is om die ingesteldheid van aanpasbaarheid te hê en om konstant te ontwikkel in jou huidige situasie, al beteken dit dat jy buite jou gemaksone moet beweeg.
Wie in hierdie span dink jy gaan mense hierdie seisoen verras, en wat maak daardie speler iemand om dop te hou? Luke Joseph is ’n nuwe doelwag wat vanjaar sy eerste jaar hokkie vir ons speel en tot dusver uitstekende resultate vir die span verseker het. Hy lewer resultate wat mens van ’n ervare doelwag kan verwag, sonder om twee keer daaroor te dink, en hy het ’n duidelike passie vir ’n nuwe uitdaging en leergeleentheid op die veld.
As kaptein, watter tipe leier wil jy hierdie seisoen vir jou span wees, en watter voorbeeld wil jy stel? Vir my is die belangrikste aspek van ’n leier om die res van jou span onder jou vlerk te neem en ondersteuning vir almal te bied deur dik en dun. Ek wil ’n voorbeeld van standvastigheid vir hulle stel deur goeie en berekende besluite te neem en nie op emosies te reageer nie, maar eerder op helder denke.
Wanneer mense julle span hierdie jaar sien speel, wat hoop jy sal hulle ná die tyd oor die groep sê? Definitief dat ons ’n span is wat saamstaan tot die eindfluitjie blaas, en wat, ongeag die resultaat, met trots tot die einde veg.









