Onderhoude-Hoërskool Diamantveld Rugby Eerstespankaptein-MG van Greuning
ADVERTISEMENT
Ons gesels met die rugby eerstespankaptein van Hoërskool Diamantveld-MG van Greuning. Lees die spesiale uitgawe vir die Classic Clash tussen Diamantveld vs Noord-Kaap hier. Dis propvol spanfotos, onderhoude en al die aksie.
MG van Greuning
Hoe was die voorseisoen vir hierdie span, en wat het dit vir julle gewys oor die groep se karakter, ingesteldheid en toewyding? Ons voorseisoen het verlede jaar Oktober al begin. Ons het verskriklik hard gewerk in daardie tyd en selfs op ’n toer na Wellington gegaan, wat gewys het hoe toegewyd en gedissiplineerd die span is.
Wat maak vanjaar se eerstespan anders as vorige spanne, en hoekom moet ondersteuners opgewonde wees om julle hierdie seisoen te sien speel? Wat hierdie span anders maak, is die hoeveelheid talent wat ons onder mekaar het en dat ons met meer selfvertroue speel as in vorige jare.
Wat gaan deur jou kop in die oomblikke voordat jy die baan of veld in jou skoolkleure betree, en wat beteken daardie geleentheid vir jou persoonlik? Oomblikke voor ’n wedstryd tref die vlinders en stresgevoel my altyd, maar sodra ek saam met my span deur daardie tonneltjie hardloop, gaan alles weg en voel ek trots en opgewonde.
Elke sterk span het sy eie identiteit — hoe sal jy julle span se speelstyl, ingesteldheid en gees beskryf? Ons speel baie vinnige rugby en wanneer tye moeilik raak, gee ons nooit op nie.
Watter standaard het jy en jou span vir julself hierdie seisoen gestel, buiten net om wedstryde te wen? Alhoewel ons nie by ons mikpunte uitgekom het om twee uit twee op toere te wen nie, is ons grootste mikpunt steeds om die SSR-liga te wen en te oorheers.
Watter wedstryd staan vir jou die meeste uit op die kalender, en wat maak daardie wedstryd so belangrik vir die span? Die wedstryd teen Stellenberg het die meeste op ons kalender uitgestaan.
Wie in hierdie span dink jy gaan mense hierdie seisoen verras, en wat maak daardie speler iemand om dop te hou? JG van Heerden gaan mense verras met sy goeie vermoë om spelgeleenthede te skep en sy uitstekende werksetiek.
Wat leer hierdie sport by jou skool vir spelers wat verder gaan as net wat op die baan of veld gebeur? Sport leer ons dissipline, respek en spanwerk. Buiten dit maak rugby ons nie net goeie mense nie, maar ook goeie mans.
As kaptein, watter tipe leier wil jy hierdie seisoen vir jou span wees, en watter voorbeeld wil jy stel? Ek wil ’n leier wees wat leiding neem deur die manier waarop ek speel, ’n voorbeeld stel, positief bly en altyd my span ondersteun.
Wanneer mense julle span hierdie jaar sien speel, wat hoop jy sal hulle ná die tyd oor die groep sê? Ek hoop dat mense kan sê dat ons ’n span is wat met trots speel en dat hulle van buite af kan sien hoe spesiaal hierdie groep van ons is.









