Ligbron Akademie vir Tegnologie Juf onder bestes in SA
ADVERTISEMENT
Me Lenie van Zyl het tydens die finale rondte van die National Teachers Awards derde geëindig in die afdeling vir Uitnemendheid in die onderrig van Wiskunde. Die verrigtinge het plaasgevind by die Birchwood Hotel in Boksburg.
Van Zyl is vir die afgelope 42 jaar aan Ligbron verbonde, waar sy haarself opgewerk het tot adjunkhoof van akademie. Oor die jare het sy duisende kinders gehelp om Wiskunde te verstaan, te waardeer en te bemeester. Goeie punte in Wiskunde het menige kinders in staat gestel om te gaan studeer en hul drome uit te leef. Sy het haar werk met passie en toewyding gedoen en sodoende ‘n blywende invloed op leerderprestasie en liefde vir die vak gemaak.

Me Lenie van Zyl
Volgens van Zyl is Wiskunde die taal waarmee ons God se orde in die skepping kan raaksien. Sy voeg by dat dit leerders help om logies te dink en probleme op te los. Sodoende ontwikkel hulle selfvertroue. “Om daardie ‘Ek verstaan nou!’ oomblik by ‘n leerder te sien bly vir my die grootste belonging,” sê sy. Buiten die eer om as een van die beste Wiskunde onderwysers in die land aangewys te word, het sy ook met arms vol pryse weggestap. Sy het kontantpryse ontvang, ‘n R1 000 geskenkbewys van Woolworths, ‘n tablet, asook aanlyn opleiding in digitale onderwys. Die grootste prys is egter die geleentheid om saam met die ander wenners vir drie weke na China te toer. Die Ligbron Akademie vir Tegnologie eer Juffrou Lenie vir die groot bydrae wat sy by die skool lewer, as ook haar rol as mentor vir vele jong onderwysers en leerders.









