Laerskool Bellville-Noord kom bymekaar om die braaivleisvure
ADVERTISEMENT
Laerskool Bellville-Noord het Donderdag, 25 Januarie, ‘n heerlike bring-en-braai by die skool gehou. Hierdie braai vind elke jaar aan die begin van die jaar plaas en dan kuier die ouers en onderwysers lekker saam in die onderskeie graad groepe. Dit was ‘n heerlike aand waar die ouers en onderwysers lekker informeel saamgekom het en ‘n vleisie en/of worsie op die kole gegooi het. Die land se politieke en ekonomiese probleme, die MI Cape Town wat deesdae al hul T20-wedstryde verloor, die Bafana Bafana wat net nie kan wen nie maar geweldige salarisse ontvang, die brande in die Kaap en die huidige warm dae, die prys van eiers en vele ander dinge is bespreek en oplossings voor gekry. Natuurlik was daar ook baie gelag en braai-geheime gedeel. Die kinders het ook lekker op die rugbyveld gespeel tot die vleis reg was, en weer na die magies vol was. Vele marshmallows is natuurlik ook gebraai. Teen 22:00 was alles weer rustig en stil en elkeen by hul eie huis, reg om die volgende skool- en werksdag met nuwe energie aan te durf.















