Hoërskool Volksrust sorg vir opwindende MSHA-liga wedstryde
ADVERTISEMENT
Hoërskool Volksrust se hokkiespanne het onlangs aan MSHA-ligawedstryde deelgeneem en sodoende ook waardevolle ervaring opgedoen. Die eerstespan het ‘n hoogs kompeterende kragmeting teen Hoërskool Ermelo op VHS se nat, maar pragtige grasvelde, gelewer. Alhoewel hulle uithalerhokkie gespeel het, het die span ongelukkig vasgeval met twee doele teenoor een.
Die o.16-span het egter ‘n spannende (en glyerige) wedstryd beleef, maar ten spyte hiervan vir EHS 1-0 geklop. Hul oorwinning was ‘n toonbeeld van vaardigheid en vasberadenheid te midde van gure omstandighede.
Intussen het die o.14-span hul ligawedstryd teen Hoërskool Secunda op die astro-baan by laasgenoemde skool gespeel. As ‘n onervare span wat vir die eerste keer op ‘n astro-baan deelgeneem het, het hulle hul beste gegee en waardevolle lesse geleer, ten spyte van ‘n 4-0 nederlaag.
Al die VHS-spanne het groot karakter en deursettingsvermoë getoon, wat verseker het dat dit ‘n gedenkwaardige dag vir VHS-seunshokkie was. Al die spanne se vasberadenheid en sportmangees sal definitief sukses in hul toekomstige ligawedstryde verseker.










