Hoërskool Volksrust sê Vaarwel aan Meneer Du Plessis na Baie Jare Diens
ADVERTISEMENT
Vir ‘n indrukwekkende tydperk was mnr. Du Plessis ‘n integrale deel van die Volkies-gemeenskap.
As ‘n jong onderwyser het Wimpie dadelik sy beste gegee vir Volksrust Hoërskool en ons dorp. Deur die jare het hy, getrou aan sy aard, deel geword van die Volksrust gemeenskap. Nie net by die kerk nie, maar ook as pa van 3 seuns en eggenoot van Santa, het hy altyd getrou, en op sy stil manier, sy kant gebring. Die mooi sagte en respekvolle manier waarop hy steeds elke kind en grootmens aanspreek, bly bewonderenswaardig.
Op skool was mnr. Du Plessis die guru van Besigheidstudies. Vir baie jare het hy die vak op graad 12-vlak onderrig. Sy kennis van die vak was briljant. Sy algemene kennis oor besigheid en finansies het die leerders voorberei om gebalanseerd en goed voorbereid vir die lewe ná skool te wees. Hy het ook die vermoë gehad om die potensiaal van leerders te sien. Hy sou dan die ekstra myl loop, soos baie leerders ervaar het. Oud-leerders respekteer steeds sy empatie en respek, soos dikwels op Facebook gesien word. Krieket was sy spesialiteit en sy tegniese kennis van die spel was buitengewoon.
As ‘n kollega was Wimpie altyd gereed met ‘n kompliment, ‘n grappie of iets lekker om te eet. Volkies mis jou reeds, Wimpie.
Mag dit goed gaan met jou en jou familie. Mag jy gesond wees. Mag Willem floreer. Mag jy lekker visvang en krieket kyk. Mag ons Heer jou en jou mense styf vashou. Mag Nylstroom jou waarde en menswees waardeer.
Ons groet jou met heimwee en deernis.










