Gereformeerde Hoërskool Dirk Postma Matriekuitslae 2025
ADVERTISEMENT
Matriekuitslae 2025 – Gereformeerde Hoërskool Dirk Postma behaal weer 100%-slaagsyfer. Vir die vier-en-twintigste agtereenvolgende jaar het die Gereformeerde Hoërskool Dirk Postma ‘n 100% matriek-slaagsyfer behaal – ‘n prestasie wat volgens skoolhoof Saskia Meijer nie net van menslike vermoeëns getuig nie, maar veral van die Here se besondere seën oor die skoolgemeenskap.
Wat die 2025-matriekgroep se uitslae besonder opmerklik maak, is die omstandighede waaronder dit behaal is. Sommige leerders het die jaar onder uiters moeilike toestande aangepak, insluitend ernstige gesondheids- en persoonlike uitdagings. Tog het hulle nie net geslaag nie, maar selfs onderskeidings behaal.
Die skool was een van slegs vyf uit 56 skole in die distrik wat ‘n 100% slaagsyfer kon bereik – ‘n prestasie wat des te meer indrukwekkend is wanneer die akademiese statistieke in ag geneem word. Uit die groep van 24 leerders, wat elkeen nege vakke geneem het (sewe NSS-vakke plus twee verpligte GSDP-vakke: Bybel en Kerkgeskiedenis), is altesaam 53 onderskeidings behaal – 30 in NSS-vakke en ‘n verdere 23 in Bybel en Kerkgeskiedenis.

Die matriekklas van 2025.
Die Wiskunde-statistieke is veral bemoedigend. Terwyl die nasionale gemiddeld ongeveer 33% van leerders gewone Wiskunde neem, het 62,5% van Dirk Postma se matriekgroep die vak aangepak. Van hierdie 15 leerders het vyf met onderskeiding geslaag, wat beteken dat 33% van die klas Wiskunde met onderskeiding geslaag het – aansienlik hoër as die ongeveer 23% by groot skole. In Fisiese Wetenskap het agt leerders die vak geneem, met twee wat onderskeidings behaal het en vier met ‘n B-simbool. Verder het 83% van die groep met graadtoelating geslaag, en een leerder het ook distrikstoekennings ontvang.
Vier leerders het besonder uitgeblink: twee het elk nege onderskeidings behaal, een het ses onderskeidings verwerf, en nog een het vyf onderskeidings bekom. In haar verklaring beklemtoon Meijer dat akademiese prestasie, hoewel belangrik, nie die einddoel van die skoolloopbaan is nie. “Die ware vraag is nie slegs wat ‘n leerder bereik het nie, maar wie daardie leerder aan die einde van sy of haar skoolloopbaan geword het,” verduidelik sy.
Die skool se visie strek verder as gevulde koppe – dit gaan oor gevormde harte. Vir meer as twaalf jaar, vanaf kleuterskool tot in matriek, word leerders doelbewus toegerus met geestelike, emosionele, sosiale en akademiese boustene. Onderwysers wat daagliks roepingsgetrou aangemeld het, kan nou met groot vreugde terugkyk op die vrug van hul arbeid. Meijer wys daarop dat ware sukses daarin lê dat jongmense die skool verlaat met ‘n duidelike begrip van wie hulle is, waar hulle behoort en op watter waardes hulle hul lewe wil bou. Dit gaan daaroor dat hulle met onderskeidingsvermoë leer dink, met integriteit optree en met verantwoordelikheid keuses maak, ook wanneer dit moeilik is. “Die wêreld waarin ons kinders instap, is kompleks en dikwels onstuimig,” waarsku sy. “Ware sukses is daarom dat hulle met standvastigheid en vertroue in die Here die lewe tegemoetgaan, bewus daarvan dat hulle nie alleen is nie en dat daar ‘n vaste anker vir hul lewens is.”
Die skool se hoop vir hierdie matriekgroep strek verder as bloot suksesvolle loopbane. Hulle vertrou dat die klas van 2025 lewens van betekenis sal lei – lewens waarin gawes en kennis tot diens van ander gebruik word, en waarin werk as roeping verstaan word. Soos Meijer dit stel: “‘n 100% slaagsyfer is iets om oor dankbaar en verheug te wees. Tog weet ons dat die ware ‘rapport’ eers oor tyd gelees word: in die lewens wat eerlik geleef word, in die gesinne en gemeenskappe wat opgebou word, en in die lig wat die klas van 2025 bring waar hulle ook al hul plek inneem.”









