Die Hoër Meisieskool Oranje se vyf A-netbalspanne maak geskiedenis
ADVERTISEMENT
Die Hoër Meisieskool Oranje se vyf A-netbalspanne maak geskiedenis. Hulle het vir die eerste keer almal in die top-2 in die Vrystaat geëindig. Deur dit kwalifiseer hulle vir die nasionale kampioenskappe.
Vier spanne – die o.14’s, o.15’s, o.17’s en o.18’s – is vanjaar se Vrystaatse kampioen. Die o.16’s is die naaswenner. Die SA’s vind in Augustus in Boksburg plaas.
Dis slegs die tweede keer in Oranje se netbalgeskiedenis dat vier van die vyf A-spanne die provinsiale wenner is. Dit het ook in 2019 gebeur.
Die 1ste span het Vrydag vir Sentraal in die eindstryd met 26-23 geklop om die trofee wat in 2019 verower is (die laaste keer wat die kampioenskappe plaasgevind het), te behou. Dis die heel eerste keer wat die o.18A’s in dieselfde jaar die distrik (Motheo)- en provinsiale wenner is. OMS was verlede maand in die Motheo-eindstryd ook teen die Tralies met 39-35 baas.
Oranje het vir Voortrekker in die halfeindstryd met 29-17 verslaan en in die groepfase met Wilgerivier (31-14), Goudveld (28-13) en Witteberg (44-3) afgereken. Die span het tans ’n wenpersentasie van 93% (41 uit 44) en is in die derde posisie op die nasionale ranglys.

Die Hoër Meisieskool Oranje se eerste netbalspan is vir die eerste keer ooit gelyktydig die distrik- en provinsiale kampioen.

Die vyf A-netbalspanne van die Hoër Meisieskool Oranje wat almal vir die nasionale kampioenskappe gekwalifiseer het.

Die verdediger van Oranje, Reese Thompson vlieg deur die lug teen die Hoërskool Goudveld wat Oranje met 28-13 gewen het.









