Hoërskool Ermelo se Egiptetoer ‘n groot sukses
ADVERTISEMENT
Hoërskool Ermelo se Egiptetoer ‘n groot sukses. Van 3-12 Oktober het tien EHS-leerders die voorreg gehad om ‘n toer na Egipte te onderneem. Hulle is vergesel deur vyf onderwysers. Die toer het in Kaïro afgeskop met ‘n besoek aan die Grand Egyptian Museum waarna ‘n papirusmuseum asook ‘n ou Koptiese kerk besoek is. Daarna het die groep na Aswan gevlieg waar die tempel van Philae en ‘n Nubiese nedersetting besoek is. Die volgende avontuur was ‘n bootrit op die Nyl vir drie dae. Die boot het aangedoen by Edna en Esfu, die Kom Ombo-tempel is besoek en uiteindelik is daar anker gegooi by die geskiedkundige stad Luxor waar die Karnak-tempels besoek is en die aand is die stad in perdekarretjies besigtig . Die volgende dag is daar besoek afgelê by drie graftombes van voormalige farao’s by die Vallei van die Konings waarna die groep per bus na Hurghada vertrek het. Hurghada is aan die Rooi See geleë en hier was vele geleenthede vir pret en plesier!
Die groep het tuisgegaan by die Bellagio-oord en is per boot geneem na sommige van die nabygeleë eilande waar daar onder toesig van ‘n bekwame gids gesnorkel is. Daar was ook tyd vir ‘n besoek aan Paradise Island en watersport- en pret op die fletsblou Rooi See-water. Die volgende dag het die groep ‘n ‘quadbike’-safari in die woestyn onderneem wat groot vermaak aan die jonges en seer sitvlakke aan die onnies verskaf het!
Daarna was dit terug Kaïro toe vir ‘n besoek aan die piramides van Giza, ‘n basaar, die befaamde stegies van Khanil-el-Khalili sowel as die Cairo Festival City-inkopiesentrum. Wat ‘n onvergeetlike ervaring was dit nie met groot dank ook aan ons Hemelse Vader wat die skool, leerders en onderwysers oor al die duisende kilometers veilig bewaar het. EHS is dankbaar en bevoorreg om só geleentheid te kan bied vir die leerders van Hoërskool Ermelo.
Die groep EHS-leerders tydens hul toer na Egipte
Die onderwysers wat saam met die leerders die toer na Egipte meegemaak het
Die groep Erries in Egipte










