Departementshoof groet Hoërskool Witteberg en kyk vir oulaas terug
ADVERTISEMENT
Uit Mnr Oosthuizen se pen Makker op pad na aftrede! Dit is altyd moeilik om verlief te neem van ‘n ware opvoeder wat die onderwysberoep verlaat. Die bitter mooi herinnerings en oomblikke gedeel met mnr André Pottas as onderwyser, departementshoof, kollega en vriend van Witteberg, sal ons altyd bybly. Na 28 jaar en 5 maande tree hy as onderwyser uit. Sy gelyke is moeilik te vind en hy gaan beslis onthou word vir sy besondere taalvernuf, skerp kwinkslae en lojale karakter. Elke Witteberger kan vandag getuig hoe meneer Pottas inspraak gehad het in ons opvoeding en dat hy gewys het hoe ‘n positiewe ingesteldheid teenoor enige situasie jou leer om ten volle te leef.
Mag die opgewondenheid van elke sonsopkoms meneer elke dag ontvang. Mag daar daagliks gestap word in die lig van God se wysheid en mag die gesprekke en boodskappe vanaf oudleerders en kollegas, meneer daagliks herinner aan die grensverskuiwende werk wat meneer by Witteberg gedoen het. Ons salueer jou Makker!!! Uit Mnr Pottas se pen;
𝐕𝐈𝐑 𝐎𝐔𝐋𝐀𝐀𝐒 𝐔𝐈𝐓 𝐃𝐈𝐄 𝐏𝐄𝐍, 𝐕𝐀𝐍 𝐌𝐍𝐑 𝐀𝐍𝐃𝐑𝐄 𝐏𝐎𝐓𝐓𝐀𝐒 (𝐌𝐀𝐊𝐊𝐄𝐑)
![]()
Aan almal met Bloubloedare: Soos enige ander dag het my laaste dag by Witteberg aangebreek, die son skyn, die klok lui en skielik is die dag se grootsheid my oor. Die cliché lui dat die oog die hart se venster is, maar vandag was dit vir my net te werklik. Die kyke in kollegas en kinders se oë, was vandag vir my gemoed net te veel.
Soveel genade, dankbaarheid, lofprysings, geskenke, noem maar op, het ek nie regtig verdien nie. Dit wat ek vandag kon meemaak, moet sekerlik wees soos ‘n blinde wat braille lees. Die oë, net soos die vingers wat die voellees doen, kan nie lieg oor wat gelees word nie. Ek is eintlik maar net nog ‘n gewone mens/ onderwyser. Witteberg het my gemaak wat ek is, en as dit suksesvol is, dankie aan alle Wittebergers. Ek verlaat die skool vandag met ‘n gevoel van dankbaarheid, maar die skool sal maar sukkel om my te verlaat.
My klaskamer was vir my soos ‘n verhoog en die kinders was my gehoor. My gehore deur die jare het my elke dag tot nuwe hoogtes gedwing. Geen klasaanbieding was vir my sleg nie, want die jeug is soos sponse wat reg is vir kennis, jy kan en durf geen kind onderskat nie. Kennis is verseker nie net boekekennis nie, daar is soveel waarhede en sommer net laggeleenthede wat wag om gedeel te word. Daar is net te veel stories in die lewe om te deel dat ‘n mens jou kosbare verteltyd aan die negatiewe dinge rondom jou moet afstaan. Aan my hoof, mnr. Hannes, kollegas, Afrikaans Departement, vriende, ouers, oud-leerlinge, en almal wat die lewe as ‘n voorreg sien, julle maak mens Menswaardig en Geliefd en Bevoorreg. Hou by die BLOU. Makker Pottas










