[Onderhoud] Hoërskool Cradock Eerstespan Seunshokkiekaptein – Christiaan Kotzé
ADVERTISEMENT
Lees die spesiale uitgawe vir die Classic Clash tussen Hoërskool Cradock en Gill College hier. Dis propvol spanfotos, onderhoude en al die aksie.
AWSUM het die geleentheid gehad om met Christiaan Kotzé, Eerstespan Seunshokkiekaptein van Hoërskool Cradock te praat oor hul voorbereiding, sterkpunte en vooruitsigte vir die seisoen..
Op watter aspekte van fiksheid en strategie het die span tydens voorseisoen-oefeninge gefokus? Ons het tydens die voorseisoen daarop gefokus om ons fiksheid op die regte vlak te kry deur ’n paar fiksheidsessies tussen die oefeninge in te werk. Ons het ook ’n paar oefeninge gehad waar ons deur die reëls gegaan het en die verskillende strategieë wat ons beplan om ons spel aan te pas, bespreek.
Wat is julle span se sterkpunte hierdie jaar? Ons almal is baie toegewyd om hokkie te speel en elke speler gee elke keer hul alles as ons die veld opdraf. As ek een van ons sterkpunte moet uitlig, is dit ons vermoë om aan te pas as die spel verander en ’n nuwe manier te vind om by die doelboks uit te kom.
Wat beteken dit vir jou om die skool se eerstespan te lei? Ek het nog altyd opgekyk na die hoërskool se eerstespan, dus is dit vir my ’n baie groot eer om die span te lei. Dit is vir my ook lekker om die jonger spelers te help en te weet ek kan ’n verskil maak in die skool se sport.
Het julle skool ‘n groot hokkiekultuur en hoe belangrik is sukses vir julle span om dit te volhou? Ons skool se hokkiespanne was nog altyd sterk en het al baie sukses bereik. Seunshokkie was aan die uitsterf, en ons is baie dankbaar om dié jaar meer spelers te hê wat belangstel. Elke wedstryd kry ons meer ondersteuners en ons hoop daar sal nog baie bykom. Dit is vir ons belangrik om wedstryde te wen, maar ook om ons sportmangees te behou. Ons wil vir almal wys dat CHS se seunsspan goeie hokkie kan speel en dit geniet.
Wat wil julle as ‘n span in 2025 bereik? Dit is die eerste jaar wat CHS se seunshokkiespan teen ’n Gill-hokkiespan gaan speel. Ons doel vir die jaar is om ons Interskole te wen en dat die Gill-span hulle eerste Interskole nie sommer sal vergeet nie.
Watter wedstryd en/of toernooi is vir julle die spesiaalste en hoekom? Dit is vir ons altyd lekker om teen Templeton te speel. Hulle spelers het ’n passie vir hokkie net soos ons. Hulle is altyd meer as bereid om teen ons te speel as ons nie ’n tuiswedstryd het nie. Ons het ’n baie goeie verhouding met die spelers in hulle span en dit is lekker om mekaar elke jaar aan te vat. Die kompetisie is altyd sterk wanneer ons speel.
Is daar ‘n hokkiespeler of sportfiguur na wie jy opkyk, en hoe het hulle loopbaan jou benadering tot die spel beïnvloed? Ek het nie noodwendig ’n sportfiguur waarna ek opkyk nie, maar ek kyk op na ’n voormalige afrigter, Juffrou Lane Coetzee, wat vir my vanaf graad 1 tot 3 hokkie gegee het. Sy het vir my die liefde vir hokkie geleer en vir my ’n belangrike boodskap oorgedra deur altyd te glimlag en te lag tydens oefening. Ek het by haar geleer hoe om ’n stok vas te hou, sowel as om altyd positief te bly. Elke keer as ek stres voor ’n wedstryd, dink ek aan haar en probeer ek dit net geniet.
Christiaan Kotzé
Ons het ook met die afrigter van dié span, (Shidene Taai (Coach Proppie) gesels:
Wat kan die skool en ouers hierdie Interskole van julle span verwag? Die skool en ouers weet dat Gill ‘n baie gedugte span is, maar wat hulle van ons kan verwag, is dat dit glad nie maklik gaan wees om Gill te klop nie. CHS sal beslis nie ‘n “walkover” wees nie!
Hoe berei julle span in die week voor tot by Interskole? (fisies en geestelik) Om onsself fisiek voor te berei, werk ons hard aan balwerk, speel 5-a-side, en as daar foute gemaak word, weet die seuns hulle moet sak vir vyf “push-ups”. Om geestelik voor te berei, weet die span hulle moet van die begin van oefening af “switched on” wees en gefokus bly.
Waar sou jy sê lê julle krag hierdie jaar? Ons krag lê beslis hierdie jaar in spanwerk, goeie kommunikasie en – die belangrikste van alles – dissipline.
Wie het die grootste invloed op jou as afrigter gehad? Is daar iemand na wie jy opkyk? Vir my is dit beslis Tannie Louise Steenkamp. Sy het ’n hart van goud en was van graad 2 af my afrigter. Sy het altyd in my geglo en was my grootste inspirasie – sy het my liefde vir hokkie wakker gemaak. Danksy haar kon ek hoogtes bereik en hokkie op ander vlakke speel. Tannie Louise is beslis ’n groot rolmodel en iemand na wie ek my hele lewe lank sal opkyk, want sy het die verborge talent in my raakgesien.
Watter boodskap dra jy aan jou span oor net voor hulle die veld betree? My boodskap aan die seuns is dat hulle die wedstryd moet geniet. Die belangrikste deel van my boodskap is: “Communication is the key. What happens on the field stays on the field. And be switched on till the final whistle.”










