[Onderhoud] Hoërskool Cradock Eerstespan Hokkiedogters kaptein – Anné Adam
ADVERTISEMENT
Lees die spesiale uitgawe vir die Classic Clash tussen Hoërskool Cradock en Gill College hier. Dis propvol spanfotos, onderhoude en al die aksie.
AWSUM het die geleentheid gehad om met Anné Adam, Eerstespan Dogtershokkiekaptein van Hoërskool Cradock te praat oor hul voorbereiding, sterkpunte en vooruitsigte vir die seisoen..
Wat is julle span se sterkpunte hierdie jaar? Een van ons sterkpunte is dat ons as ’n span baie goed oor die weg kom en mekaar soos sussies op, en langs die veld hanteer. Goeie verhoudings af van die die veld lei tot sterk bande wat tot jou voordeel tel tydens wedstryde.
Wat beteken dit vir jou om die skool se eerste hokkiespan te lei? Dit is vir my ’n groot eer om as kaptein van die eerste hokkiespan van CHS uit te draf, maar ek besef wel dat dit met groot verantwoordelikhede gepaard gaan. Dit is ’n wonderlike geleentheid, en ek hoop werklik om die toekomstige hokkiespelers van CHS te inspireer.
Het julle skool ‘n groot hokkiekultuur en hoe belangrik is sukses vir julle span om dit te volhou? CHS spog met ’n hele paar hokkiespanne in die 2025-seisoen. Elke span bestaan uit kranige hokkiespelers. Dit is hartroerend om op ’n Saterdag langs die hokkieveld te staan en te beleef hoe die spanne mekaar ondersteun.
Wat wil julle as ‘n span in 2025 bereik? Die 2025-seisoen was propvol hokkie-aksie, met ons Interskole-wedstryd teen Gill wat ons 23ste wedstryd vir die jaar is. Ons span het soveel tydens die seisoen bereik. Ons het geleer hoe om vir mekaar te speel en saam as ’n span te staan. Ons doel vir 2025 is om weereens as kampioene op 9 Augustus van die veld af te stap.
Watter wedstryd en/of toernooi is vir julle die spesiaalste en hoekom?
Ek dink ek praat namens die hele span as ek sê dat die Greg Beling-hokkiefees in Oos-London die hoogtepunt op ons hokkiekalender is. Van westryde in bloedige hitte op astrobane met die mooiste uitsigte, tot om saam as ’n span in die see te duik ná ’n wedstryd – dit is ’n toernooi wat ons band as span versterk.
Is daar ’n hokkiespeler of sportfiguur na wie jy opkyk, en hoe het hulle loopbaan jou benadering tot die spel beïnvloed?
My sportrolmodel is die Spaanse tennisspeler Carlos Alcaraz. Hy is welbekend vir sy vegtersgees wanneer hy dalk ’n paar stelle agter is. Sy kop bly dwarsdeur die spel sterk, en al is hokkie ’n spankompetisie, moet elke speler altyd 100% kopsterk wees. Indien een speler reeds die wedstryd in haar kop verloor het, is die res van die span ’n nul op ’n kontrak. Wanneer ek negatief op die veld raak, dink ek aan hoe Alcaraz altyd sy kop hoog hou en aanhou veg.
![]()
Ons het ook met die afrigter van dié span, (Mariëtte Nel ) gesels:
Wat kan die skool en ouers hierdie Interskole van julle span verwag? Die skool, ouers en gemeenskap kan beslis uitsien na ‘n aanskoulike wedstryd waar elke speler die geleentheid kry om haar liefde vir die sport (hokkie) uit te leef. Ons streef daarna om as ‘n span saam te werk om die beste moontlike uitslag af te dwing. Dit kan bereik word deur met selfvertroue en ‘n wil om te wen op die veld te stap. Goeie kommunikasie tussen spelers, onselfsugtige spel, vinnige reaksie op beslissings van die skeidsregter, uitstekende verdediging, meedoënlose aanvalle en akkurate houe in die sirkel is waarna ons streef vir ‘n aksiebelaaide wedstryd.
Hoe berei julle span in die week tot aanloop van Interskole voor? (Fisies en Geestelik) Fisiese voorbereiding bou voort op dit wat die hele seisoen ingeoefen is. Vir ‘n span om as ‘n eenheid saam te speel, verg beplanning en week-na-week se oefening van weer-en-weer probeer totdat sukses bereik word. Die laaste afrondings vir ‘n verrassingsaanval met die afslaan tot die presisie wat vereis word vir ‘n hoekie, word vir oulaas ingedril en herhaaldelik geoefen. Elke speler word herinner aan sy doel op die veld en die belangrikheid om vinnig te herstel, sowel as reg te stel as ‘n fout begaan is. Daarvoor is uithouvermoë en selfvertroue noodsaaklik. Geestelike voorbereiding sluit in die bevestiging aan elke speler dat sy ‘n onontbeerlike bydrae tot die sukses van die span lewer. Herinner die span aan wedstryde waar hulle agter was, en teruggeveg het om te wen; waar spelers beseer is, en die span saamgestaan het om doele af te weer. Om ‘n fout te maak, is menslik. Moenie daardeur van stryk gebring word nie. Vier as ‘n span die suksesse, staan saam deur dik en dun.
Waar sou jy sê lê julle krag hierdie jaar? Alhoewel die span redelik jonk is, word hulle nie geïntimideer deur opmerkings van die opponente nie. Ons het ‘n goeie verdedigingslinie, spoed in die middelveld en akkuraatheid op die aanval. Wat meer wil jy hê vir ‘n wenspan!
Wie het die grootste invloed op jou as afrigter in jou lewe al gehad? Is daar iemand na wie jy opkyk?Beslis my familie se ondersteuning en aanmoediging om my passie vir hokkie uit te leef. My pa se vermoë om opponente se swakpunte sommer vroeg in ‘n wedstryd te identifiseer, my ma wat my as kleuter saamgeneem het na elke hokkieoefening en wedstryd van haar span en my sussie wat sommer afrigter speel en kwaai baadjie aantrek om die CHS-span te motiveer.
Die hokkie persoon waarna ek opkyk, is die oud-springbok speler, mev. Bibi Claassen. Sy het my reeds tydens my mini-hokkie dae aangemoedig om net my beste te gee wanneer ek op die baan is, of dit nou by ‘n oefening, wedstryd of afrigtingskliniek is. Tot vandag is sy altyd beskikbaar om raad te gee en steeds passievol oor hokkie.
Watter boodskap dra jy aan jou span oor net voor hulle op die baan/veld hardloop? Vertrou op God. Dis Hy wat jou die wysheid, talent en krag gee om vol te hou tot die eindfluitjie blaas. Geniet elke oomblik!










