Kultuur skitter in Hoërskool Upington
ADVERTISEMENT
Mev. Madelein May en haar ATKV-Jeugtak, die Kultuurdiere het die afgelope 5 jaar baie vir Afrikaans en die ATKV in Upington gedoen. Ten spyte van Covid, het die Kuluurdiere rotsvas gestaan en voortgegaan met hulle projekte. Die groep entoesiastiese Kultuurdiere het ‘n klimraam gebou in ‘n gebied waar daar nie baie ontspanningsfasilitiete vir kinders is nie, hul het sertifikate en sjokolade aan die petroljoggies oorhandig as bewys van danksegging vir hul onbaatsugtige diens en ‘n klas met minder gegoede leerders voorsien van geskenkpakke met o.a. warm baadjies en skryfgoed. Hul het ook bingo- geleenthede en ‘n vermaaklikheidsprogram aangebied by Oranjehof, komberse geskenk aan inwoners van Pabalello en na ‘n kultuurkonsert kon hul droogtehulp gee van R15 000 aan hul koshuis. Hierdie jaar kon hul al hul onnies bederf met verjaardaggeskenke en bydra tot 2 spoggeleenthede, ‘n Verfkwas geleentheid en Woensdae ‘n geleentheid hou waartydens die leerders geleer is om te brei.
Die ATKV-Rooiduintak en Marco van den Berg (Streekbestuurder:Noordkaap/Noordwes/Namibië) het sertifikate aan mev. May toegeken om haar te bedank vir die rol wat sy vervul in bogenoemde projekte. Ook vir dit wat sy vir die ATKV-Rooiduintak doen, nl. Handevat-Projek met Hoërskool A.J.Ferreira, wat reeds 3 jaar se volgehoue hulp aan die Verbruikerstudieklas behels, asook die ATKV-Leesprojek. Mev. Francolien du Plessis (hooforganiseerder) en mev. May het op 5 Februarie die ATKV-Kuier in samewerking met die ATKV-Rooiduintak aangebied waar ‘n Afrikoon toekenning aan mev. Henning oorhandig is. Na afloop van die funksie kon hul R10 000 aan die skool skenk.
Helena Conradie van die ATKV-Rooiduintak sê : “Madelein gee regtig om vir haar gemeenskap en het ‘n wonderlike manier om met kinders te werk.” Marco van den Berg en Beatrix Venter (Voorsitter: ATKV-Rooiduintak) sê hulle is baie dankbaar dat Madelein altyd Hoërskool Upington se fasiliteite tot die ATKV se beskikking stel en die ATKV-Rooiduintak altyd help met hul werksaamhede.
Mnr Riaan Kotze, skoolhoof Hoërskool Upington, het ook sy gelukwense uitgespreek teenoor Mev May en haar Kultuurdiere. Hy het haar bedank vir wat sy vir Uppies doen en dat sy die afgelope 30 jaar bewys het dat haar bloed Oranje is en sy alles vir ‘n kind sal doen.
Mev. May is baie dankbaar en het vir Marco van den Berg, Beatrix Venter en die hoof van Uppies bedank. Sy sê: “Ek doen soms iets omdat die geleentheid my onmiddelik aan die hart gryp en ek dadelik wil help. Dankie dat jul my hart ken en verstaan. Baie dankie aan die ATKV. Ek hoop om nog lank van diens te wees”
Agter: JD Carr, Marco Spangenberg, Kaylene Carr, Carla Serfontein
Voor: Me. Madelein May










