Hoërskool Swellendam sportuitslae
ADVERTISEMENT
Hoërskool Swellendam sportuitslae: Tennis Vs Montagu Op Vrydag, 10 Februarie het Hoërskool Swellendam se 1ste tennisspan teen Montagu gaan speel (2de Liga). Die son het die bane warm gebak en dit was reeds 36˚C toe ons op Montagu aankom. Dit was waarlik baie goeie kompetisie en almal se gemoed het hoog geloop. Elke seun en dogter het hulle beste gegee tot op die einde van elke punt. Die seuns het meeste wedstryde verloor, maar baie geluk aan die dogters wat die dag gewen het! Na hierdie wedstryde kom ons seisoen naby aan ‘n einde. Ons sien uit na die toekoms van ons skool se tennis. Coenrad van Niekerk
Sone Atletiek: Op die 11de Februarie het al ons atlete aan die Sone Atletiek byeenkoms deelgeneem by Hoërskool Bonnievale. Die byeenkoms het al vroeg die oggend begin en dit het snikheetwarm geword die dag. Ons atlete het egter deurgedruk en hulle alles gegee en die volgende atlete het eerste plek verwerf:
- Cara Schutte – 200m Dogters 0/14
- Jean-Willem De Vormer – 3000m Seuns 0/14
- Liezel Groenewald – 100m Hekkies Vroue 0/19
- Elske Burger – 300m Hekkies Dogters 0/15
- Franklin May – 400m Hekkies Seuns 0/17
- Anine Dreyer – Verspring Dogters 0/17
- Monray Windvogel – Hoogspring Mans 0/19
- Carmi Olivier – Hoogspring Dogters 0/15
- Monray Windvogel – Driesprong Mans 0/19
- Frederico Williams – Driesprong Seuns 0/17
- Jaydon Witbooi – Driesprong Seuns 0/15
- JP Gaffley – Gewigstoot Seuns 0/17
- Mila Gerber – Diskusgooi Dogters 0/14
- Luka Steenekamp- Diskusgooi Seuns 0/15
- JP Gaffley- Diskusgooi Seuns 0/17
- Jessica Buxton – Spiesgooi Vroue 0/19
- Andrea Boshoff – Hoogspring Vroue 0/19
Ons wil dan ook net baie geluk sê aan Andrea Boshoff wat die hoogspring rekord gebreek het met 1.58m. Ons sê dan ook baie dankie aan al ons atlete wat deelgeneem het en mooi prestasies verwerf het, en sterkte aan die atlete wat volgende naweek aan die Noord-Boland byeenkoms gaan deelneem. Jan-Hendrik Engelbrecht
![]()
Tweekamp: Op die 4de Februarie het Ilna Swart, ’n graad 8 leerder van Hoërskool Swellendam, aan tweekamp deelgeneem in Oudtshoorn. Ilna het vir die Boland B span deelgeneem. Tweekamp bestaan uit ’n 800m hardloop en 100m swem. Daar word punte aan elke leerder toegeken vir die spesifieke tyd wat hul die hardloop en swem klaargemaak het. Die twee items word op verskillende tye gehou en daar kan soms ‘n lang wagperiode wees tussen elke aktiwiteit. Ons is besonders trots op Ilna wat so goed in die sport uitblink. Sy het by die 800m in baie warm temperature gehardloop en behaal 8ste plek uit 48 deelnemers. By die swem het sy 30ste gekom uit die groep en behaal uiteindelik die 26ste plek. Op die 25ste Februarie is dit die Bolandkampioenskappe waar die Bolandspan gekies gaan word. Ons hou vir Ilna duim vas en wens haar alle sterkte toe.Lana Gouws
Krieket: Hoërskool Swellendam se eerste krieketspan, het op 9 Februarie 2023, teen Swellendam Senior Sekondêr gespeel. Hoërskool Swellendam het die opskiet gewen en hulle besluit om eerste veldwerk te doen. Hoërskool Swellendam het hulle bure tot ‘n telling van 71 lopies beperk in hulle 20 boulbeurte. Die uitblinker met die bal was Ruan Machiel wat 2 paaltjies gekry het vir 8 lopies en Antonio Arnoldus wat 2 paaltjies gekry het vir 7 lopies.
Hoërskool Swellendam bereik die wen telling met 9 boulbeurte oor in die wedstryd. Die uitblinker met die kolf is Ruan Machiel wat 19 lopies aangeteken het en Antonio Arnoldus wat 16 lopies aangeteken het. Hoërskool Swellendam het die wedstryd gewen met 4 paaltjies. Ethan Verwey










