Hoërskool Montana matrieks van 2022 skitter helder soos altyd
ADVERTISEMENT
Hoërskool Montana matrieks van 2022 skitter helder – soos altyd! Met die groot uitdaging van die voorafgaande 2 “Covid”-jare het die matriekgroep van 2022 nie teleurgestel nie en die Monties se harte bons nóg ‘n jaar van pure trots! 280 Kandidate het die eksamen voltooi, waarvan 99,3% geslaag het met ‘n klasgemiddeld van 66%. 253 Leerders (91%) slaag met universiteitstoelating – die meeste in die skool se geskiedenis. 7,9% van die groep slaag met diplomavrystelling.
Onderskeidings
Die groep behaal 351 x A-simbole (plus 3 x Alpha Wiskunde), 530 x B-simbole en 494 x C-simbole. 7 leerders behaal ‘n voltal onderskeidings, 5 leerders behaal 6 onderskeidings, 10 leerders behaal 5 onderskeidings en 12 leerders behaal 4 onderskeidings. Die Top 10 se gemiddeld is 85,71% en die Top 20 se gemiddeld is 83,57%. 26 Leerders se gemiddeld is bo 80%, met ‘n verdere 70 leerders se gemiddeld wat bo 70% is.
Toppresteerders
Philipp du Plessis is die toppresteerder, met ‘n gemiddeld van 88,3% en 7 onderskeidings, plus ’n agtste onderskeiding in Alpha Wiskunde (90%). Hy was vanaf graad 8 deurlopend onder die toppresteerders in sy graad. Die Monties is trots op hom.
Afrikaans Huistaal – 85%
English FAL – 91%
Wiskunde – 83%
Fisiese Wetenskappe – 87%
Rekeningkunde – 89%
Inligtingstegnologie – 91%
Lewensoriëntering – 92%
Gemiddeld – 88,3%

Kort op sy hakke is Delise Coetzer met 87,9% en 7 onderskeidings en Li-Anne Erasmus met 87,9% en 6 onderskeidings. Beide het ook vir Alpha Wiskunde ’n onderskeiding verwerf. Nog vyf Monties het 7 onderskeidings verwerf: Dario Schwan (86,1%), Kay-Leigh Collignon (85,4%), Venusche van Broekhuizen (83,6%), Alisma Nieman (83,3%) en Stefan Joubert (82%).

Vakinligting
Die vakgemiddeldes is ook iets waarop ons trots is. 1 vak het ‘n gemiddeld bo 80%, 4 vakke het ‘n gemiddeld bo 70% en 12 vakke bo 60%. 16 uit 22 vakke het ‘n 100%-slaagsyfer.
Gemiddelde is gewoonlik ’n tussenwaarde van ’n reeks waarnemings of hoeveelhede en kan soms misleidend wees indien genoegsame inligting nie daarmee saam bekendgemaak word nie. Die hoeveelheid waaruit die gemiddeld bereken word, is bepalend. Vir hierdie rede noem ons graag die aantal leerders wat sekere vakke geneem het, tesame met die vakgemiddeld en slaagsyfer:
- Wiskunde: 143 leerders behaal ‘n vakgemiddeld van 61,4% en 96,5% slaagsyfer
- Fisiese Wetenskappe: 96 leerders met ‘n vakgemiddeld van 61,2% en 99% slaagsyfer
- Rekeningkunde: 71 leerders met ‘n vakgemiddeld van 63,9% en 100% slaagsyfer.
Baie geluk aan elke leerder en onderwyser vir julle harde werk, deursettingsvermoë en baie ekstra myle. Ons wens die Matriekklas van 2022 voorspoed toe met dit wat vir hulle voorlê. Mag julle drome waar word en mag julle die Montie-waardes altyd in julle harte saamdra, waar jul ook al gaan. Droom groot en hou aan GLO EN WERK!















