Hoërskool Framesby oudleerder omskep vyf jaar se herinneringe in woorde
ADVERTISEMENT
Hoërskool Framesby gesels met Josie Lee Straus Ek het in 2022 matrikuleer. Hoe kan ek vyf jaar se herinneringe in woorde omskep ? Framesby, my terug-verlang-plek van interhuis-atletiek, interskole teen Nico Malan, sokkies, die ‘Big Brag’ en die opwinding van hokkietoere. Ek mis Afrikaansklasse waarin Juffrou Jordaan die taal so lewendig gehou het en Biologie periodes by Meneer Oosthuizen was beslis die hoogtepunt van my dag. Ek onthou hoe ons met trots na elke saalbyeenkoms die skoollied uit volle bors gesing het (natuurlik het die seuns ‘n ekstra ‘bou’ en ‘trou’ herhaal). Die meeste oudskoliere sal ook saamstem as ek sê dat ons `n paar munte in ons baadjiesak gelos het vir Juffrou Landman se liplekker fudge. Dis regtig die klein dinge in die lewe wat n mens die langste sal onthou.
Ek was bevoorreg om in 2020 – 2022 vir die eerste dogters hokkiespan te kon speel. Ek was ook onderkaptein in my matriekjaar en het elke oomblik op die veld geniet. Dis op die veld waar mens van spanwerk, deursettingsvermoë, kommunikasie en goeie sportsmanskap leer en waar vriendskappe gevorm is wat n
leeftyd sal hou. Ek het ook op die monitorbestuur gedien en het aan ander aktiwiteite soos cheerleading,Forum, filantrope, ATKV en VCSV deelgeneem. Ek was in 2023 ‘n assistent onderwyseres by Voetspore kleuterskool, waar ek my passie vir onderwys ontdek het. Die skapieklas (3-4 jarige kleuters) het té vinnig in my hart ingekruip en is die rede waarom ek n verskil in vele ander kinders se lewens wil maak.
Huidiglik bevind ek myself in die skoene van n eerstejaar BEd-grondslagfase-onderwysstudent by Varsity College. Ek glo dat dit my roeping is en weet sommer dat ek elke oomblik daarvan sal geniet. Ek bly nog by my ouers en ek is so geseënd met n gesin wat my ondersteun in alles wat ek aanpak. My ouer
suster, Tessa Strauss (Matriek 2020, Hoërskool Framesby), studeer verpleegkunde en is beslis n rolmodel vir my. Ek kan net daarna streef om so geduldig, liefdevol en empaties soos sy te wees. Ek is ook geseënd met my kêrel, Tiaan Nortje (Onderhoofseun in Matriek 2022, Hoërskool Framesby), wat ek in graad 9 by Framesby ontmoet het. Hy is tans besig met sy tweede jaar as mediese student by NMU en ek is so trots op sy harde werk en goeie prestasies. Vir die huidige leerders in Framesby: In n oogwink is jy ook klaar met skool. Voordat jy jou oë uitvee, bevind jy jouself by die Valedictory en luister na `n laaste praatjie van jou Graadhoof of skryf jy vir n laaste keer eksamen in die saal; so geniet elke oomblik daarvan. Ek hoop met my hele hart dat julle hierdie kosbare
oomblikke in hoërskool sal koester.




















