Hoërskool Die Wilgers het behoorlik geskitter tydens die Nasionale Toneelspelkompetisie
ADVERTISEMENT
Vanjaar het die leerders van Hoërskool Die Wilgers behoorlik geskitter tydens die Nasionale Toneelspelkompetisie. Die skool het hierdie jaar ses aspirant akteurs ingeskryf waarvan vyf deurgedring het tot die top 55. Hoërskoolleerders van regoor Suid-Afrika het deelgeneem aan hierdie kompetisie, waarvan Hoërskool Die Wilgers die gasheerskool was vir die Gauteng-uitdunne.
Die Nasionale Toneelspelkompetisie word deur industriekenners beoordeel en deelnemers kry die geleentheid om aan verskeie items deel te neem om hul vaardighede in film, teater en radio op die proef te stel. Vir die uitdunne moes hulle elkeen ‘n prosa en poësie item voorberei. Dani Heyman, Desiree Thirion, Jaco Koster, Zanje Bodenstein en Moya Erasmus het met hul stukke deurgedring tot die finaal, wat 22-24 Mei in die Playhouse Teater, in Somerset-Wes, aangebied is. Die groep het saam met hul afrigters, Maynie Knoetze en Lara Lourens van PALI Youth, in Gordonsbaai tuis gegaan en tussendeur al die voorbereiding tyd gemaak vir ‘n bietjie sosiale aktiwiteite. Hulle het onder andere by die bekende Labia Bioskoop in Kaapstad gaan fliek en middagete op die pragtige Lourensford Wynplaas geniet.
Moya Erasmus
Desiree Thirion
Dani Heyman
Jaco Koster (graad 11) het deurgedring tot die top 20 rondte, waar leerders hul vernuf voor die kamera en agter die mikrofoon moes wys in die film- en radio afdeling. Graad tien leerder, Zanje Bodenstein, het al die pad deurgedring tot die landswye top 8 en die geleentheid gehad om haar prosa, poësie en monoloog tydens die kompetisie se gala-aand, in die teater, op te voer. Ons is bitter trots op elke deelnemer wat hierdie geleentheid met albei hande aangegryp het en Hoërskool Die Wilgers se naam hoog gehou het.
Zanje Bodenstein
Jaco Koster










