[Onderhoude]-Langenhoven Gimnasium Hokkiedogters Eerstespankaptein-Imke Mulder
ADVERTISEMENT
Ons gesels met die hokkiedogters eerstespankaptein van Langenhoven Gimnasium– Imke Mulder. Lees die spesiale uitgawe vir die Interskole tussen Langenhoven Gim vs Punt hier. Dis propvol spanfotos, onderhoude en al die aksie.

Imke Mulder
Hoe was die voorseisoen vir hierdie span, en wat het dit vir julle gewys oor die groep se karakter, ingesteldheid en toewyding?Die voorseisoen vir hierdie span het hoofsaaklik uit fiksheid bestaan. Dit is belangrik om individueel aan jou fiksheid te werk sodat, wanneer die span weer saam begin oefen, daar op struktuur en hoe die span saam speel gefokus kan word. Vanjaar was ek baie trots op hoe elke meisie in die span haar toewyding gewys het deur hard te werk gedurende die Desembervakansie. Dit wys vir my dat hulle werklik passievol is en verantwoordelikheid vir hul rol in die span neem.
Wat maak vanjaar se eerstespan anders as vorige spanne, en hoekom moet ondersteuners opgewonde wees om julle hierdie seisoen te sien speel?In my vier jaar in die eerstespan is vanjaar se span beslis die naaste aan my hart. Wat dit so spesiaal maak, is hoe goed ons mekaar ken. Dit voel soms asof ons mekaar se gedagtes kan lees, op én van die veld af. Ondersteuners kan uitsien daarna om ons span se chemie eerstehands te ervaar.
Wat gaan deur jou kop in die oomblikke voordat jy die veld in jou skoolkleure betree, en wat beteken daardie geleentheid vir jou persoonlik? Daar is steeds ’n knoop op my maag voor elke wedstryd. Vanjaar dink ek veral daaraan om elke wedstryd te koester, omdat dit my laaste seisoen in wit en blou is. Ek is ongelooflik dankbaar dat ek saam met so ’n ongelooflike span my hokkieloopbaan kan afsluit. Ek herinner myself gereeld daaraan dat dit ’n voorreg is om my skool te verteenwoordig en my span te lei.
Elke sterk span het sy eie identiteit – hoe sal jy julle span se speelstyl, ingesteldheid en gees beskryf? Ons span se speelstyl is beslis gebaseer op die beginsel van “saam is ons beter”. Ons afrigters herinner ons gereeld daaraan dat hokkie ’n spansport is en dat ons mekaar moet gebruik en waardeer. Ons span is oor die algemeen baie positief en gemaklik met mekaar. Een woord wat ons goed beskryf, is beslis persoonlikheid – jy kan ons hoor aankom voordat jy ons sien.
Watter standaard het jy en jou span vir julself hierdie seisoen gestel, buiten net om wedstryde te wen? Tel dit as ek sê top drie in die liga? Op ’n ernstiger noot het ons span aan die begin van die jaar besluit dat ons doelwit is om in elke wedstryd ons beste te gee en as ’n span saam te speel. Al is die telling nie altyd in ons guns nie, probeer ons op elke wedstryd voortbou en daaruit leer.
Watter wedstryd staan vir jou die meeste uit op die kalender, en wat maak daardie wedstryd so belangrik vir die span? Interskole is natuurlik baie belangrik vir ons span. Ek dink die senior spelers sal met my saamstem as ek sê dat daar net ’n ander atmosfeer is wanneer ons teen Punt speel. Die spanne ken mekaar baie goed en het ’n goeie verhouding, daarom is dit lekker om gesonde kompetisie te hê.
Wie in hierdie span dink jy gaan mense hierdie seisoen verras, en wat maak daardie speler iemand om dop te hou? Dit is baie moeilik om iemand uit te sonder omdat elkeen van die meisies soveel talent het, maar Ellenè Schoeman het hierdie seisoen ongelooflik baie ontwikkel. Sy is slegs in graad 9 en speel as sentrale verdediger. Sy het hierdie koel, kalm houding op die veld en werk ongelooflik hard vir dit wat sy wil bereik.
Wat leer hierdie sport by jou skool vir spelers wat verder gaan as net wat op die veld gebeur? Spansport as geheel leer jou hoe om met mense te werk, om jou kop op te tel wanneer dinge swaar gaan en om verantwoordelikheid vir jou optrede te neem. Dit is belangrik om te besef wanneer jy ’n fout gemaak het, maar nog belangriker om dit agter jou te kan sit en aan te beweeg.
As kaptein, watter tipe leier wil jy hierdie seisoen vir jou span wees, en watter voorbeeld wil jy stel? Ek wil die span graag lei met ’n oopdeurbeleid. Ek glo enige probleem kan opgelos word, maar jy moet die vrymoedigheid hê om daaroor te praat. Ek wil elke speler – senior én junior – laat voel dat sy raakgesien word en die hokkieveld ’n omgewing maak waar almal gemaklik en vol selfvertroue kan voel.
Wanneer mense julle span hierdie jaar sien speel, wat hoop jy sal hulle ná die tyd oor die groep sê? Ek wil graag hê dat mense ons moet onthou vir ons energie, ons kommunikasie op die veld en die manier waarop ons saamwerk om te wen.












