[Onderhoud] Welkom Gimnasium- Eerstespan Rugbykaptein – Diederik Beuken
ADVERTISEMENT
Lees die spesiale uitgawe vir die Classic Clash tussen Goudveld-Hoërskool en Welkom Gimnasium hier. Dis propvol spanfotos, onderhoude en al die aksie.
AWSUM het die geleentheid gehad om met Diederik Beuken ,Eerstespan Rugbykaptein van Welkom Gimnasium te praat oor hul voorbereiding, sterkpunte en vooruitsigte vir die seisoen..
Diederik Beuken
Hoe uitdagend was die voorbereiding vir die seisoen? Ons voorseisoenprogram was uitdagend, maar dit het baie bygedra tot die spelers se kondisionering vir die komende seisoen. Ons sukses op die sportveld het begin met harde werk en toewyding – iets wat reeds in die voorseisoen duidelik was.
Watter spesifieke sterkpunte glo jy het hierdie jaar se span wat julle van die opposisie onderskei? Hierdie jaar se span het iets besonders – ons speel nie net vir onsself nie, maar vir mekaar. Een van ons grootste sterkpunte is ons spangees en samehorigheid. Ons is nie net ‘n groep spelers nie; ons is ’n broederskap wat mekaar op en van
die veld ondersteun. Verder is ons fiksheid en spelstruktuur op ’n baie hoë vlak. Ons het hard gewerk aan dissipline en kommunikasie, wat beteken ons bly kalm en gefokus onder druk. Elke speler weet presies wat van hom verwag word en ons vertrou mekaar om daardie rolle te vervul. Laastens glo ek ons intensiteit en trots om ons skool se kleure te dra gee ons daardie ekstra rand. Ons speel met hart – iets wat nie maklik gebreek kan word nie.
Hoe voel dit om jou skool se eerstespan te lei, en waarop sal jy as leier fokus? Dit is vir my ’n groot voorreg om die span te lei. My fokus is om die span te motiveer en te help fokus op ons gemeenskaplike doelwit. Bo alles wil ek hulle inspireer om elke wedstryd hul beste te gee. Ek is ongelooflik trots om as kaptein saam die span uit te draf op Saterdag. My span se positiewe gesindheid maak dit maklik om hulle te lei. My Hemelse Vader help my om te lei – sonder Sy genade is niks moontlik nie.
Watter tradisies of waardes maak jou skool se rugbykultuur uniek? Hierdie legendariese skool is uniek – veral met ons swart trui. Ons passie lê by ons mense. Dit is ons
verskillende agtergronde en perspektiewe wat ons sterker maak. Elke leerder dra by tot ons kultuur, en Gimmies het ’n kultuur soos geen ander. Ons diversiteit ís ons krag.
Watter doelwitte het julle as span vir die seisoen gestel? Elke oefensessie, spandag, toer en saamwees het ons een stap nader gebring aan ons doelwitte. Ons mik daarna om sterker te eindig as waar ons begin het – om die beste te wees, vir jou span én vir jou skool.
Watter opkomende wedstryde of toernooie sien julle die meeste na uit? Sonder twyfel: Gim en Goud. Dit is daardie een dag per jaar waar alles in Welkom tot stilstand kom. Families en vriende word verdeeld, en almal kies kant – alles in goeie gees. Oral waar jy kyk is dit rooi en blou. Dis daardie spesiale dag wanneer ons almal besef: ons is verskillend, maar tog dieselfde.
Is daar ’n professionele rugbyspeler na wie jy opkyk, en hoekom? Ja, my rolmodel is my neef, Tiaan Fourie, wat tans vir die Sharks speel. Ek kyk geweldig op na hom.
Hy is nie net ’n uitmuntende sportman nie, maar ook ’n man van karakter – iemand wat alles gee, nie net vir homself nie, maar ook vir die sport. Bo alles staan sy nederigheid uit.










