Nuwe personeel vir Hoërskool Volksrust
ADVERTISEMENT
Hoërskool Volksrust verwelkom met trots ons nuwe Engels Huistaal-onderwyseres, Me. Anja Krause! Anja kom oorspronklik van Bloemfontein af en het aan die Universiteit van die Vrystaat Engels en Sielkunde gestudeer. Sy bring ‘n passie vir lees, die natuur, kreatiwiteit, en ‘n diep liefde vir diere saam na ons skool. Met haar entoesiasme en toewyding is ons seker dat sy ‘n groot impak op ons leerlinge sal hê. Ons sien uit na die energie en vars idees wat sy na die klaskamer en gemeenskap gaan bring. Kom ons gee haar ‘n warm Volkies-welkom!
![]()
Welkom by Volkies, Me. Marlene van den Heever! Ons is opgewonde om me. Marlene van den Heever as deel van ons Volkies-span te hê! Sy het BCom Entrepreneurskap en Ondernemingsbestuur aan die Noordwes-Universiteit op Potchefstroom voltooi en bring 9 jaar se ervaring in die finansiële bedryf na ons gemeenskap. Haar passie vir musiek, diere en gesin is duidelik in alles wat sy doen. Marlene gaan Natuurwetenskappe vir graad 9 en Lewenswetenskappe vir Graad 10 aanbied terwyl sy haar Nagraadse Onderwys Diploma voltooi. Sy is optimisties oor haar nuwe loopbaan en sien uit daarna om saam met ons span en leerlinge te floreer. Haar strewe om voortdurend nuwe dinge te leer inspireer ons almal. Welkom by ons familie, Marlene!
![]()
Hoërskool Volksrust verwelkom met trots me. Elana Dippenaar wat van Petrus Steyn in die Vrystaat af kom. Sy het haar B.Ed-graad in onderwys vir Rekeningkunde en Fisiese Wetenskappe aan die Noordwes-Universiteit op Potchefstroom voltooi en bring ‘n liefde vir wetenskaplike kennis en onderrig na ons span. Elana gaan Natuurwetenskappe vir graad 8 en Fisiese Wetenskappe vir graad 10 aanbied. Haar passie vir opvoeding en haar toewyding aan haar vakke maak haar ‘n aanwins vir ons Volkies-familie. Ons sien uit na die positiewe invloed wat sy op ons leerlinge en skoolgemeenskap sal hê. Welkom, Elana! Ons is opgewonde oor die pad wat voorlê.










