‘n Opwindende kwartaal twee vir Augsburg Landbougimnasium
ADVERTISEMENT
LANDBOU: Die BKB Wolskool is volstoom aan die gang by Augsburg Boerdery. Keith Coetzee en Thinus van Schalkwyk, van BKB, bied die wolskool aan vir die Graad 11 Landbouleerders. Die volgende aspekte word aangespreek:
- wolklas
- vaggooi
- stukkiesklas
Weereens baie dankie aan BKB wat al hierdie waardevolle geleenthede aan ons leerders bied.
Die Graad 8 Landboustudie-leerders se assesseringsprojek het hierdie kwartaal baie vrugte afgewerp. Onder die bekwame leiding van Mnr. Arnay Louw en Mnr. Roy Laing (Augsburg Kwekery) het hulle die groentetonnel by Augsburg Boerdery, skoon gemaak en voorberei. Die leerders het self die boontjies geplant, versorg en geoes. Die verpakking is gedoen en die heerlike boontjies was te koop by Clanwilliam Superspar.
“Mag dit reën waar jou skape wei” moet beslis nou verander word na “…waar jou lammers wei” want dis lamtyd by Augsburg Boerdery. Die Graad 10-leerders samel al die data in en werk in skofte. Hulle “Lamprojek” vorm ‘n groot gedeelte van hulle Praktiese Assesseringstaak .Die graad 10’s moet ook leer hoe om data te verwerk en aanvevelings te maak. Hierdie aanbevelings word tydens begrotingstyd aan Augsburg se plaasbestuurder voorgelê. Ons leerders het dus ‘n geleentheid om Augsburg se kleinvee te verbeter.
Netbal: Baie geluk aan Emmerencia Kordom wat gekies is vir die o.18 Weskaap Willow netbalspan. Sy neem vanaf 09 -14 Julie 2023 deel aan die SA Skole Nasionale Netbaltoernooi te Bellville. Ons is trots op jou, Emma!
Rugby: Baie geluk aan Leranzel Smith wat gekies is vir die o.15 Weskaap-rugbyspan. Hy gaan in die Junie-vakansie deelneem aan die Winterspele in Johannesburg. Ons is trots op jou, Leranzel!
Baie dankie aan Rooibos Ltd wat altyd so getrou die skool se hand vat. Ons is baie trots op ons jarelange borg! Baie dankie dat julle ook nou die o.15 A-rugbyspan en o.16 a-rugbyspan se wedstrydtruie borg. Ons sien uit om nog ‘n lang pad saam met hierdie uitstaande borg te stap.
Foto: vlnr Chae Marais (kaptein o.16 A), Cobus van Coller (skoolhoof), Leranzel Smith (kaptein o.15 A)


















