Hoërskool Parel Vallei se “Stoep” neem gehoor op nostalgiese reis
ADVERTISEMENT
Op elke dorpie, in elke straat, by meeste huise is daar ‘n stoep. Seisoene draai en mense kom en gaan, maar soos Hoërskool Parel Vallei se tienertoneelproduksie, STOEP se kalender deur ses dekades blaai, sien ons hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit eintlik dieselfde.
Bekroonde regisseur en skrywer, Darryl Spijkers het in 2022 sy veelsydigheid bewys toe sy produksie, mAaNmAaTs as ATKV-tienertoneel se algehele wenner aangewys is en sy sielkundige riller, DIE SUSTERSKAP vir hom die toekenning as beste regisseur besorg het. 
Hierdie drama-onderwyser en kultuurhoof van Parel Vallei, het nog nooit weggeskram van uitdagende temas of moeilike gesprekke nie en in 2023 bied hy weereens ‘n unieke perspektief op die leefwêreld van tieners – dié slag met ‘n pragtige liefdesbrief oor grootword wat ons op ‘n nostalgiese reis deur stukkies van ons land se geskiedenis neem.
Drie meisies se lewensverhale word deur tyd geskei, maar saamgebind deur ‘n gemeenskaplike plek, ‘n soortgelyke stryd en ‘n boek wat nooit gepubliseer is nie. Doline Havinga (Inge), Celeste Grobler (Leske) en Rosline Spires (Rosie) se deurdagte vertolking bring hulle karakters se hoop en drome, te midde van soveel skakerings van donker, tot baie na aan jou lyf. Die eenvoudige stoep en sy stories word vir elkeen van ons beide ‘n tuiste en ‘n spieël wat elke stil en skaam Racheltjie de Beer na vore roep om, soos die heldinne van ons verlede, hede of toekoms, haar rol te kom speel.
Op elke dorpie, in elke straat, by meeste huise is daar ‘n stoel op die stoep.
Van daardie stoel kom soveel stories, almal pas eintlik bymekaar…
Dramaturg: Darryl Spijkers
Regisseur: Darryl Spijkers
Rolverdeling: Doline Havinga, Celeste Grobler, Roslin Spires, Paul Strydom, Sebastian van Niekerk, Bongolwethu Bawuti, Unathi Mankahla en Miquette Eloff.
STOEP het die afgelope week aan die Namakwaland-toneelfees in Springbok deelgeneem en is op 31 Julie by die Playhouse Dramafees in Somerset-Wes te sien.













