Hoërskool Ermelo Musiek Meesters bekoor
ADVERTISEMENT
Hoërskool Ermelo Musiek Meesters bekoor. Op Vrydag 22 April 2022 het ‘n groep plaaslike musikante onder die naam van ErmeloMusiekMeesters hul eerste konsert onder die vaandel van die ABK van Zijl Kunstesentrum in ‘n volgepakte Ouditorium aangebied. Die eerste helfte was in ‘n klassieke styl. Die jong opkomende pianis, Tamar Randell, het die aand geopen met ’n skitterende gememoriseerde vertolking van haar Unisa graad 8-program. Tussendeur het Elsa Winckler en Frans Boshoff pragtige gedigte voorgelees. Dis opgevolg deur die bekende “Gabriel’s Oboe” op trompet gespeel deur Loutjie du Toit en sang deur Venetia Rose, Lion du Plessis en Phila Dladla. Die eerste helfte is op ‘n hoogtepunt met die immergewilde Voshaarnooi afgesluit.
Die tweede helfte is afgeskop op ‘n vrolike noot met die MusiekMeestersorkes wat uit oud-Erries en musiekpersoneel bestaan het. Daarna het die a capella sanggroep, “Oh yes let’s” die gehoor met hul pragtige harmonieë bekoor. Gewilde treffers soos “Something stupid”, “Perhaps love” en “Shallow” is gesing deur Elanie Smit, Lion du Plessis en Phila Dladla. Phillip Randell het op die saksofoon ‘n gevoelvolle vertolking van “Perfect” gegee.
Dirkie van Staden op die kitaar, Lizanne Dippenaar op viool en Andrew Roos op die akkordeon
Dirkie van Staden leef homself in met sy kitaar-spel
Die aand is op ‘n hoë noot afgesluit met immergroen treffers gespeel deur die baie gewilde Dirkie van Staden op kitaar, Lizanne Dippenaar op viool, Andrew Roos op akkordeon, klavier en baskitaar en Phila Dladla op dromme.
Die entoesiastiese applous na elke item en die meelewing van die gehoor was ‘n bewys van die waardering wat die gehoor vir hierdie kunstenaars gehad het. Alle fondse wat deur die konsert gegenereer is, gaan aan die Musieksentrum. Die organiseerder van die konsert en afgetrede hoof van die Musieksentrum, me Marguerite Jacobsz, het belowe dat hulle sal terug wees en dat daar beslis nog optredes deur die ErmeloMusiekMeesters in die toekoms wink!
Tamar Randell met haar meesterstuk begin op die klavier
Die groep plaaslike kunstenaars wat die aand se sukses verseker het










