[Onderhoud] Marlow- Eestespan Rugbykaptein – Gian Steyl
ADVERTISEMENT
Ons het die geleentheid gehad om met Gian Steyl, kaptein van Marlow Landbouskool se eerste rugbyspan te praat oor hul voorbereiding, sterkpunte en vooruisigte vir die seisoen. Gian vertel wat sy span uniek maak en hoe hulle beplan om die uitdagings wat voorlê aan te pak.
Hoe uitdagend was die voorbereiding vir die seisoen en is julle gereed vir die uitdagings wat voorlê?
BAIE! Ons oefen al van einde laasjaar af. Ons het baie hard voorberei, so ek glo ons is reg vir die uitdagings wat voorlê dat ons enige wedstryd kan wen, omdat ons so hard gewerk het daarvoor.
Watter spesifieke sterkpunte glo jy dat hierdie jaar se span het wat julle van die opposisie sal onderskei?
Ek glo ons sterkpunte is: bal in hand; dat ons hard werk vanaf die bal; en dat ons baie glo in ons afrigters se vermoëns.
Hoe voel dit om jou skool se eerstespan te lei en waarop sal jy as leier fokus?
Dit is vir my n baie groot eer en voorreg om die eerstespan kaptein te kan wees. Ek sal fokus daarop om my span altyd eerste te stel en positief te hou in moeilike tye.
Watter tradisies of waardes maak jou skool se rugbykultuur uniek?
Dat almal moet rugby speel op Marlow en dat die hele skool altyd die eerstespan ondersteun op Saterdae en ons met respek hanteer.
Watter doelwitte het julle as span vir die seisoen gestel?
Om altyd mekaar te help om positief te bly en om altyd ons beste op, en vanaf die veld te gee.
Watter opkomende wedstryde of toernooi sien julle die meeste na uit?
Ons sien die meeste uit na die Wildeklawer-toernooi waar ons ons ware kragte kan meet teen baie groter skole as onsself.
Is daar ‘n professionele rugbyspeler na wie jy opkyk, en hoekom?
Patrick Lambie, want hy is ‘n goeie, gedissiplineerde rugbyspeler met ‘n baie groot passie vir die spel. Ek hoop om eendag so goeie rugbyspeler te kan wees soos wat hy was.











