[Onderhoud] Megan Morehen.: o.19A netbalkaptein van Hoërskool Zwartkop
ADVERTISEMENT
AWSUM het met Megan Morehen Zwartkop se o.19A netbalkaptein oor die FNB Classic Clash gesels vs Hoërskool Eldoraigne.
Wat is die hoogtepunt van julle span se seisoen sover? Ons oorwinning teen Hoërskool Waterkloof is ons hoogtepunt tot dusver. Ons het aan onsself bewys dat ons instaat is om die beste span moontlik te wees en tot die einde toe te veg. Dit het vir ons die motivering gegee om net nog harder te werk om ons doelwitte te bereik. Ons het alles in ons vermoë gedoen om ons skool se naam hoog te hou.
Hoe motiveer jy jou span? Ek bemoedig my span deur positief te bly en inspireer hulle om die beste moontlike weergawe van hulleself op die netbalbaan te wees. My leuse vir die span is “aanhouer wen” en ten spyte van die moeilike tye, poog ons om altyd doelgerig te wees en mekaar by te staan, ongeag of ons wen of verloor. Ons vier die hoogtepunte en ons werk net harder in die moeilike tye.
Wie is julle onderkaptein en hoe staan sy jou by? Tiané Brink is my regterhand. Sy is altyd daar in tye van nood en sy is ‘n hartsvriendin. Sy is die persoon op wie ek kan terugval wanneer my gemoed laag is. Sy sal vir my die ondersteuning bied om deur te druk, is altyd daar vir die span en is werklik ’n staatmaker.
Wat wil julle as `n span die jaar bereik? Wat sal jou trots maak? Ek praat namens die span as ek sê dat ons elkeen se grootste doelwit is om deur te gaan SA’s toe. Ons span het die potensiaal om die doelwit te bereik. Ek glo met my hele hart dat die Here ons pad vorentoe ryklik sal seën en vir ons die krag sal gee om aan te hou glo en die droom ‘n realiteit te maak. Dit sal my so trots maak om te sien dat ons harde werk beloon word.
Lees die spesiale koerantuitgawe vir die naweek aanlyn of kry joune by die skool! Klik hier










