[Onderhoud] Hoërskool Stellenberg Eerstespan Rugbykaptein – Christian Jansen van Rensburg
ADVERTISEMENT
Lees die spesiale uitgawe vir die Classic Clash tussen Hoërskool Durbanville en Hoërskool Stellenberg hier. Dis propvol spanfotos, onderhoude en al die aksie.
AWSUM het die geleentheid gehad om met Christian Jansen van Rensburg, Eerstespan rugbykaptein van Hoërskool Stellenberg te praat oor hul voorbereiding, sterkpunte en vooruitsigte vir die seisoen..
Wat is spesiaal ten opsigte van die eerste rugbyspan? Ek dink ons span speel verskriklik goed saam, veral onder geweldige druk; en ek dink dit is iets wat ons span baie spesiaal maak. Ons span bestaan uit gr. 11- en 12-spelers, en alhoewel ons verskillende ouderdomme is, het die span amper dadelik ‘n goeie konneksie en ‘n sterk band gevorm. Elke speler beskik oor die vermoë om sy álles te gee en hard te speel tot die einde toe – om ons doel te bereik en ons skool trots te maak.
Wat beteken dit vir jou om eerstespankaptein te wees? Dit is ‘n verskriklike groot eer om Hoërskool Stellenberg se eerstespankaptein te wees. Dit is ook ‘n groot voorreg om spelers met soveel talent te kan lei; en dit is my gunstelingdeel van kaptein wees. My hoofdoel is altyd om die span deur dik en dun aan te moedig, en om seker te maak dat hulle hul koppe hooghou, maak nie saak wat die omstandighede is nie.
Waar sou jy sê lê julle krag hierdie jaar?Ons glo dat dit baie belangrik is om respekvol te wees teenoor elke opponent, maak nie saak hoe groot of hoe klein die wedstryd is nie. Respek van die veld af – teenoor leerders, onderwysers en ouers – is ook vir ons baie belangrik. Integriteit is nóg ‘n belangrike eienskap wat ons van elke speler verwag, en ek glo dit maak ons span briljant. Ons het gereeld byeenkomste waar ons mekaar beter leer ken en bietjie span bou – wat ons toelaat om vriendskappe op en af van die rugbyveld te vorm. So word spangees bevorder.
Wat was die eerstespan se doelwitte vir die jaar? Een van ons grootste doelwitte was om die “Grand Slam” te behaal: om SACS, Wynberg, Bishops en Rondebosch te wen. Ons laaste doelwit is om die volgende drie wedstryde teen Boland, Milnerton en Durbanville te wen.
Hoe voel jy en jou spanmaats oor Interskole?Ons sien baie uit na ons Interskole teen Hoërskool Durbanville. Interskole-week is baie spesiaal, want dan is daar altyd ‘n ongelooflike atmosfeer in die skool en omgewing. Die hele skool is vol gees en dit herinner elke liewe speler daaraan dat ons vir Hoërskool Stellenberg speel! Vir meeste van ons is dit ons laaste Interskole en ons hoop van harte dat ons gaan wen.
Wie het die grootste invloed op jou as rugbyspeler? Beslis Eben Etzebeth. Hy gee te alle tye sy alles op die veld: hy is vasberade, hy het ‘n ongelooflike uithouvermoë, en hy druk altyd deur tot die heel einde. Dit is alles eienskappe waarin ek ook glo. Hy is ‘n baie goeie rugbyspeler met baie goeie waardes.

Christian Jansen van Rensburg
Ons het ook met die afrigter van dié span, (Louw Lombaard ) gesels:
Wat kan die skool en ouers hierdie Interskole van julle span verwag? Stellenberg is nog altyd bekend vir die “exciting brand” wat ons speel, en ons het hierdie jaar ’n jong en opwindende span wat die spel lekker kan afwissel. Dit is Interskole – so dis amper nie eens nodig om dit te sê nie: dit gaan weer kliphard wees, so die manne sal inklim en die “effort” bring!
Hoe lyk julle voorbereiding (fisies en geestelik) gedurende die week voor Interskole? “Stick to what we know”. Ek dink dis belangrik om nie te verander waaraan ons gewoond is nie! Ons respekteer natuurlik elke naweek ons opponente – so die voorbereiding sal soos normaalweg wees om te fokus op ons plan; om al die geraas in die agtergrond te vermy; en om seker te maak ons geniet elke oomblik.
Waar sou jy sê lê julle krag hierdie jaar? Ons is ’n baie goed gebalanseerde span wat kan aanpas soos wat dit benodig word. Hulle speel vir mekaar en hou nogal van ’n bietjie duik!
Wie het die grootste invloed op jou as afrigter gehad? Is daar iemand na wie jy opkyk? My eerstespan-afrigter op skool (Boland Pienaar) het ’n groot invloed op my gehad. Hy was ’n harde man wat ons geleer het om hard te werk en uiters fiks te wees. Sy beginsels van rugby bly altyd by my: om op en áf van die veld hard te werk en ‘n “solid” man te wees.Tegnies is dit natuurlik Rassie Erasmus: die manier hoe hy oor rugby dink, hoe hy met die spelers werk, sy liefde vir die spel, die nuwe idees waarmee hy vorendag kom, en hoe hy alles sal doen vir die span – is iets besonders.
Watter boodskap het jy vir jou span net voor hulle op die baan/veld hardloop? Die span kom altyd eerste – geen individu is groter as die “game” nie! Elke speler (en afrigter) het ’n verantwoordelikheid teenoor hierdie span – so gaan uit en wys dit! Om rugby te speel is nie ’n reg nie – dit is ’n voorreg!









