[Onderhoud] Hoërskool Durbanville Eerstespan Rugbykaptein – Juan Smit
ADVERTISEMENT
Lees die spesiale uitgawe vir die Classic Clash tussen Hoërskool Durbanville en Hoërskool Stellenberg hier. Dis propvol spanfotos, onderhoude en al die aksie.
AWSUM het die geleentheid gehad om met Juan Smit, Eerstespan rugbykaptein van Hoërskool Durbanville te praat oor hul voorbereiding, sterkpunte en vooruitsigte vir die seisoen..
Watter spesifieke sterkpunte glo jy dat hierdie jaar se span het wat julle van die opposisie sal onderskei? Beslis die broederskap binne die span en ons vermoë om vir mekaar te speel. Daardie band maak ’n groot verskil op die veld wanneer dinge moeilik raak.
Hoe voel dit om jou skool se eerstespan te lei en waarop sal jy as leier fokus? Dis ’n groot eer en ’n nog groter verantwoordelikheid. Ek sien my rol as kaptein nie net om te lei nie, maar om te dien — om seker te maak dat ons span mekaar ondersteun en dat ons die mense wat ons ondersteun, trots maak.
Watter tradisies of waardes maak julle skool se rugbykultuur uniek? Hierdie jaar het ons span ’n gelukbringer gekry – sy naam is Stoffel. Ons hoop om ’n nuwe tradisie daarmee te begin wat die span se identiteit en gees sal versterk.
Watter doelwitte het julle as span vir die seisoen gestel? Ons het gefokus op twee groot mikpunte: om onoorwonne deur die Noord-Suid toernooi te gaan en om Interskole te wen. Alles wat ons doen, werk in daardie rigting.
Watter opkomende wedstryde of toernooi sien julle die meeste na uit? Sonder twyfel – die wedstryd teen Stellenberg. Dit is een waarna ons al lank uitsien.
Is daar ’n professionele rugbyspeler na wie jy opkyk, en hoekom? Malcolm Marx. As hakker kyk ek op na die manier waarop hy speel – sy fisieke teenwoordigheid, sy werktempo en hoe hy homself op en van die veld hanteer, is iets waarna ek strewe.

Juan Smit
Ons het ook met die afrigter van dié span, (Ivan Jooste) gesels:
Wat kan die skool en ouers hierdie Interskole van julle span verwag? Die ondersteuners kan ’n span verwag wat met vasberadenheid, trots en toewyding die veld betree. Hierdie manne het hard gewerk deur die seisoen en dra die skoolwapen met erns en verantwoordelikheid. Hulle is gereed om elke oomblik aan te gryp en alles op die veld te los. Soos tradisioneel te verwagte van ‘n Durbanville-span, kan toeskouers uitsien na aanskoulike rugby: ’n hardwerkende, kompakte voorry ondersteun deur ’n opwindende en onvoorspelbare agterlyn wat elke geleentheid sal benut.
Hoe berei julle span in die week tot aanloop van Interskole voor? (fisies en geestelik) Ons volg ’n gestruktureerde en gefokusde weekprogram. Fisies lê die klem op afwerking, die slyp van spelpatrone en die verfyning van basiese vaardighede. ’n Groot woord van dank gaan aan André Loubser, ons S&C-afrigter, vir sy toewyding – van vroeë oggende tot laataand beplanning – om te verseker dat ons spelers in hul beste fisieke toestand die veld betree. Geestelik spits ons ons toe op fokus, drukhantering en die belangrikheid van lojaliteit teenoor die span. Elke speler weet waarvoor hy speel, en wat van hom verwag word. Ons is geseën met ongelooflike mentors in ons stelsel: Johan van Deventer, ons voorspeler-afrigter, en David Rosselli, ons spelermentor, wat ’n diep geestelike pad saam met ons seuns gestap het hierdie jaar.
Waar sou jy sê lê julle krag hierdie jaar? Ons grootste krag lê ongetwyfeld in ons dissipline en broederskap. Hierdie is ’n groep spelers wat nie terugstaan vir uitdagings nie. Ons het ’n leuse wat ons deur die seisoen gedra het: “Don’t ring the bell” – ’n simboliese herinnering daaraan dat ons nie opgee nie, maak nie saak hoe moeilik dit raak nie. Selfs wanneer ons agter op die telbord is, hou ons aan baklei. Hierdie span speel vir mekaar – met opoffering, lojaliteit en ’n diep gevoel van eenheid – en dit maak die werklike verskil.
Wie het die grootste invloed op jou as afrigter in jou lewe al gehad? Is daar iemand na wie jy opkyk? Ek volg en leer graag by afrigters wat reeds sukses behaal het – op beide skool- en nasionale vlak. Ek glo jy sal nooit ooit alles weet van die spel wat ons so liefhet nie, en dit is juis wat dit so besonders maak: daar is altyd iets nuuts om te leer. ’n Afrigter wat ’n besondere invloed op my manier van dink gehad het, is Niel Powell. Sy gefokusde benadering tot spanbou en kultuur, en hoe hy dit gebruik het om sukses te behaal as ’n groep, het my diep geraak. Die manier waarop hy detail benader en sy span op een koers kry, is iets waarna ek streef in my eie afrigtingsfilosofie.
Watter boodskap dra jy aan jou span oor net voor hulle op die baan/veld hardloop? Ons tema en fokus in die aanloop tot Interskole was eenvoudig maar kragtig: om ’n “never quit”-houding te handhaaf. Die spelers het in die afgelope drie weke ongelooflike werk gedoen – hulle het diep gedelf, karakter gewys, en werklik moeite ingesit om as span te groei. Voor elke wedstryd, tot en met Interskole, herinner ek hulle aan iets eenvoudig maar betekenisvol: “Keep doing good, and good will come to you.” Dit gaan oor volharding, geloof, en die wete dat harde werk en goeie waardes altyd vrugte dra – op en van die veld af.









