[Onderhoud] Hoërskool Punt Eerstespan netbalkaptein – Nadia Wentzel
ADVERTISEMENT
Lees die spesiale uitgawe vir die Classic Clash tussen Langenhoven Gimnasium en Hoërskool Punt hier. Dis propvol spanfotos, onderhoude en al die aksie.
AWSUM het die geleentheid gehad om met Nadia Wentzel, Eerstespan netbalkaptein van Hoërskool Punt te praat oor hul voorbereiding, sterkpunte en vooruitsigte vir die seisoen..
Wat dink jy maak julle span hierdie jaar mededingend? My span is mededingend omdat ons sterk spanwerk en uitstekende samewerking toon – elke speler verstaan haar rol en werk goed saam met ander. Ons spel is strategies en slim; ons pas aan volgens die teenstander en benut hul swakpunte. Ons is vinnig en hou vol tot die laaste minuut, met goeie tegniek en akkuraatheid. Onder druk bly ons gefokus en laat ons nie foute ons onderkry nie. Wat ons regtig laat uitstaan, is die passie waarmee ons speel – ons ondersteun mekaar, gee nooit moed op nie en speel elke wedstryd met hart en trots.
Wat beteken dit vir jou om jou skool as ’n eerstespan-speler te verteenwoordig? Dit is ’n groot voorreg om vir die eerste span te speel, en ek voel geëerd. Ek speel nie net vir myself nie, maar ook vir diegene wat dit nie gemaak het nie. Ek wil my skool trots maak en bewys dat ek streef van hoog na hoër. My doel is om ’n voorbeeld te wees vir ander, veral jonger spelers, en te wys dat harde werk werklik beloon word.
Watter doelwitte het julle span vir die komende seisoen gestel? Ons doelwit is natuurlik om al ons wedstryde te wen en goed te presteer in toernooie. Ons streef daarna om ons beste te lewer, foute te minimaliseer en gefokus te bly op wat voorlê. Ons wil ook ons skool se naam met trots uitdra – en natuurlik ook Interskole wen!
Watter span of toernooi beskou jy as julle grootste uitdaging hierdie seisoen? Ons grootste toernooi was Topskole en die Outeniqua-toernooi. Vir Interskole mik ons daarna om uitstekend te presteer en die trofee terug te bring na die Visse, want ons is wenners!
Watter netbalster of sportpersoonlikheid bewonder jy en hoekom juis hy of sy? Daar is baie netbalspelers na wie ek opkyk, maar as ek dit moet beperk, sou ek beslis sê Karla Pretorius en Shamera Sterling. Beide hierdie spelers is verdedigers en is talentvol. Karla, wat dieselfde posisie as ek speel, het ’n uitstekende spelbegrip en kommunikeer baie goed met haar spanmaat (GD). Sy is beslis een van my gunsteling Suid-Afrikaanse spelers. Shamera Sterling is egter my grootste inspirasie en rolmodel. Haar veerkragtigheid en vermoë om ’n wedstryd te lees, asook haar uitsonderlike talent om die bal op te spoor, maak haar ’n speler waarna ek opkyk. Sy besit al die eienskappe wat ’n verdediger begeer, en dit is my droom om eendag soos sy te wees.

Nadia Wentzel
Ons het ook met die afrigter van dié span, (Peter Romp ) gesels:
Wat kan die skool en ouers hierdie interskole van julle verwag: Die skool en ouers kan verwag dat ons met passie trots en samehorigheid op die baan gaan.
Ons as span oefen elke week om ons samespel te verbeter en ook op mekaar te vertrou op die baan. Skool en ouers kan verwag dat ons die wedstryd met toewyding gaan speel en dat ons nie sal opgee al gaan dit moeilik nie. Ons gaan as ‘n eenheid speel, ondersteun en met sportmangees optree WEN/verloor.
Maar bo alles kan julle verwag dat ons die skool se naam met trots sal uitdra, met goeie dissipline en ‘n gees van samewerking. Die span gaan nie net vir hulle self speel nie, maar vir elke ouer, afrigters, en elke leerder wat in hulle glo.
Hoe berei julle span in die week tot aanloop van interskole voor (fisies en geestelik)
Fisies
- Ek gaan werk aan intensiewe oefensessies met minder volume om moegheid te voorkom.
- Fokus val op foutkorreksie, spelpatrone en kombinasie tussen aanval en verdedigers
- Wedstrydsimulasie om druk van wedstryd na te boots
Geestelik
- Bou aan selfvertroue en spaneenheid deur positiewe spanpraaitjies en motivering
- Elke speler moet aangemoedig word om hul rol in die span te vul en elkeen se sterkpunte uit te wys
- Praat oor drukhantering, kalm te bly terwyl mense ondersteun.
- Jy moet kan visualiseer hoe jy balle afvat, draai en deurvat doele toe.
- Doele moet kan visualiseer hoe hulle oopkom en balle in doel
- Dan ook om vir spelers te laat besef om elke oomblik te geniet aangesien dit die laaste wedstryd van hul skoolloopbaan is
- Kortom moet ons kopsterk, gefokus en positief op baan kan stap en alles gee
Waar sou jy sê lê julle krag hierdie jaar ?Veelsydigheid van spelers in die groep wat op verskillende posisies kan speel en vining aanpas. Werk saam by oefening wanneer wedstryd similasie oefeninge aan gewerk word. Spelers bereid om hard aan foute te werk en nie tevrede te wees met middelmatigheid nie.Ek glo elke speler het gegroei – tegnies sowel geestelik
Wie het die grootste invloed op jou as afrigter in jou lewe gehad. Is daar iemand na wie jy opkyk?
Die persoon wat die grootste invloed op my as netbalafrigter gehad het, was die huidige Nasionale Afrigter Jenny van Dyk. Sy het nie net die spel verstaan nie, maar ook in die spelers se welstand belanggestel. Dissipline, respek en spanwerk was vir haar belangriker as net om te wen. Sy het gewys dat sy in haar spelers en hul vermoëns geglo het
Dan is daar op internasionale vlak afrigters van verskeie sportsoorte wat my pad gekruis waarna ek opkyk en wat my verskeie lewenslesse geleer het, sowel as afrigtings etiek.
Watter boodskap dra jy aan jou span oor net voor hulle op die baan/veld hardloop? Dit gaan wees dat ons as span hard gewerk het, voorbereiding is gedoen en dat dit wat geleer is moet nou op die baan ten toon gestel word. Ons het hard geoefen en nou moet hulle vir mekaar gaan speel en allles tot die beste van hul vermoëns uitvoer .Moenie bang wees om foute te maak nie, maar wees eerder bang om nie alles te gee nie .Julle speel nou vir mekaar, julle ouers en belangrikste vir julle skool.Hou julle koppe hoog, speel julle harte uit en geniet ellke oomblik op die baan.









