[Onderhoud] Grey College Rugby Eerstespankaptein – Xander Smit
ADVERTISEMENT
Lees die spesiale uitgawe vir die Classic Clash tussen Grey College en Paul Roos hier. Dis propvol spanfotos, onderhoude en al die aksie.
AWSUM het die geleentheid gehad om met Xander Smit, Rugby Eerstespankaptein van Grey College te praat oor hul voorbereiding, sterkpunte en vooruitsigte vir die seisoen..
Watter spesifieke sterkpunte glo jy dat hierdie jaar se span het wat julle van die opposisie sal onderskei?
Hierdie jaar het ons span uitstekende samewerking en ’n baie sterk verdediging. Ons hou by ons spelpatroon en ondersteun mekaar – selfs wanneer dinge moeilik raak.
Hoe voel dit om jou skool se eerstespan te lei en waarop sal jy as leier fokus? Dit is ’n groot eer om my skool se eerstespan te lei. As kaptein fokus ek op die spangees, positiwiteit en om ’n voorbeeld te stel deur my werksetiek, ingesteldheid en gedrag – op én van die veld.
Watter tradisies of waardes maak jou skool se rugbykultuur uniek? Ons rugbykultuur is gebou op respek, trots en harde werk. Elke keer as ons die skool se trui aantrek, doen ons dit met trots. Daar is ook ’n sterk gevoel van broederskap en lojaliteit onder ons spelers.
Watter doelwitte het julle as span vir die seisoen gestel?Ons hoofdoel is om elke wedstryd met fokus en toewyding aan te pak en as ’n eenheid te speel. Ons wil verbeter op verlede jaar se prestasie en mik daarna om ’n topspan in ons liga te wees.
Watter wedstryde of toernooie sien julle die meeste na uit?Die Interskole-wedstryd teen ons grootste teenstander, Paul Roos, is vir seker die een waarna ons die meeste uitsien. Dit is ’n hoogtepunt vir die hele skool en iets waarvoor ons die hele jaar werk.
Is daar ’n professionele rugbyspeler na wie jy opkyk, en hoekom?Ja, my pa is ’n groot inspirasie vir my en my broer. Hy help ons nie net met rugby nie, maar stel ook elke dag ’n voorbeeld van hoe om ’n goeie mens en seun te wees. As dit nie vir my pa was nie, sou ek nie vandag wees waar ek is nie.
Xander Smit
Ons het ook met die afrigter van dié span, (Jannie Geldenhuys) gesels:
Wat kan die skool en ouers hierdie Interskole van julle span verwag? Almal wat betrokke gaan wees kan ’n dag van tradisievolle interskole verwag waar elke speler wat op die veld gaan, gaan speel tot die beste van sy vermoë, slaggereed om hulle deel in te skryf in die geskiedenisboeke van die geleentheid.
Hoe berei julle span in die week tot aanloop van Interskole voor? (physically and mentally)Elke wedstryd geniet dieselfde prosesse wat ons volg om voor te berei vir die kragmeting. Alhoewel mens dit wil afmaak as nog ‘n wedstryd en dat ons alle spanne dieselfde hanteer, bly daar ‘n onderliggende motivering vir wanneer mens teen Paul Roos speel.
Waar sou jy sê lê julle krag hierdie jaar? Ons is vreeslik trots op ons aanslag om geleenthede te identifiseer om aan te val van enige plek op die veld en ek glo ons het al goeie geleenthede geskep die jaar vir dit.
Wie het die grootste invloed op jou as afrigter in jou lewe al gehad? Is daar iemand na wie jy opkyk? Uit ‘n rugby oogpunt was ek baie gelukkig om nou saam met Wessel du Plessis, Andre Tredoux en Franco Smith te werk. Ek het vreeslik baie by hulle geleer in my lewe oor rugby en menswees in rugby. In die lewe was ek baie gelukkig om uit ‘n huisgesin te kom waar daar vreeslik baie ondersteuning en liefde was, wat sekerlik die grootste invloed op my menswees gehad het.
Watter boodskap dra jy aan jou span oor net voor hulle op die baan/veld hardloop? Moet nooit vergeet hoe groot die voorreg is om te kan speel en onthou hoekom jy rugby speel. Geniet die spel en kom op ‘n manier van die veld af waar jy nie spyt is oor wat jy gedoen het nie.
Jannie Geldenhuys










