[Onderhoude]- Hugenote Hoërskool Hokkiedogters Eerstespankaptein – Nicola Lochner
ADVERTISEMENT
Ons gesels met die dogtershokkie eerstespankaptein van Hugenote Hoërskool-Nicola Lochner. Lees die spesiale uitgawe vir die Interskole tussen Hugenote vs Swartland hier. Dis propvol spanfotos, onderhoude en al die aksie.

Nicola Lochner
Hoe was die voorseisoen vir hierdie span, en wat het dit vir julle gewys oor die groep se karakter, ingesteldheid en toewyding? Ons het aan die Summer Sport Festival deelgeneem, waar dit ongelooflik warm was, maar ons het as span deurgedruk. Dit was ook die eerste keer dat hierdie groep werklik saamgespeel het, en daarom moes ons leer om mekaar te verstaan en goed saam te speel.
Wat maak vanjaar se eerstespan anders as vorige spanne, en hoekom moet ondersteuners opgewonde wees om julle hierdie seisoen te sien speel?Ons is ’n baie jong groep met baie potensiaal. Ons het ook hard aan ons fiksheid gewerk, en dit gee ons die geleentheid om die hele wedstryd voluit te speel. Ek dink die ondersteuners kan uitsien na ’n span wat met baie energie, passie en trots gaan speel.
Wat gaan deur jou kop in die oomblikke voordat jy die baan of veld in jou skoolkleure betree, en wat beteken daardie geleentheid vir jou persoonlik?Ek voel opgewonde, maar ook baie dankbaar. Om my skool saam met hierdie span te verteenwoordig, is iets wat ek nie as vanselfsprekend aanvaar nie. Dit motiveer my om elke keer my beste te gee.
Elke sterk span het sy eie identiteit – hoe sal jy julle span se speelstyl, ingesteldheid en gees beskryf? Ek dink ons span se grootste kenmerk is ons positiewe ingesteldheid. Ons moedig mekaar aan en help mekaar om positief te bly, selfs wanneer dinge nie volgens plan verloop nie.
Watter standaard het jy en jou span hierdie seisoen vir julself gestel, buiten net om wedstryde te wen? Ons doel was om teen die einde van die seisoen soos ’n familie te voel. Ons wil hê almal moet die goeie tye onthou, mekaar met respek behandel en nie toelaat dat onnodige konflik of klein dingetjies tussen ons kom nie. Dit is vir ons belangrik om die seisoen saam te geniet, by mekaar te leer en herinneringe te skep waarop ons trots kan wees.
Watter wedstryd staan vir jou die meeste uit op die kalender, en wat maak daardie wedstryd so belangrik vir die span? Interskole! Dit is ’n wedstryd met baie geskiedenis en trots. Dit beteken baie om vir die laaste keer saam as ’n span op die veld te draf en alles te gee.
Wie in hierdie span dink jy gaan mense hierdie seisoen verras, en wat maak daardie speler iemand om dop te hou?Marize Peek was verlede jaar deel van die eerstespan en het as verdediger gespeel, maar sy speel vanjaar as aanvaller. Sy het baie goed by haar nuwe rol aangepas en teken baie van ons doele aan.
Wat leer hierdie sport by jou skool vir spelers wat verder gaan as net wat op die baan of veld gebeur?Hokkie leer jou dissipline, verantwoordelikheid en hoe om deel van iets groter as jouself te wees.
As kaptein, watter tipe leier wil jy hierdie seisoen vir jou span wees, en watter voorbeeld wil jy stel?My leuse is om deur my voorbeeld te lei. Ek wil hê my span moet na my kan kyk en sien hoe harde werk, dissipline en toewyding lyk, eerder as dat ek net vir hulle sê wat om te doen.
Wanneer mense julle span hierdie jaar sien speel, wat hoop jy sal hulle ná die tyd oor die groep sê? Ek hoop mense sal sê dat ons werklik as ’n span gespeel het, dat ons mekaar met respek behandel en ondersteun het, en dat ons dit geniet het om saam op die veld te wees.












