Hoërskool Jim Fouché spog met leiers van die toekoms
ADVERTISEMENT
Die JF-Koringare het op 20–21 Februarie hul eerste landsdiensklubkamp vir 2026 by Hoërskool Jim Fouché gehad.
Die verrigtinge het Vrydagmiddag afgeskop toe die leerders hul tente op die B-hokkieveld opgeslaan het. Daarna het hulle rommel rondom die B-veld en die Multisentrum as deel van hul diens aan die natuur en hul medemens opgetel.
Later die middag het die leerders verskeie voëlspesies op die skoolterrein waargeneem en ook hoede gekleur as deel van ’n kreatiewe aktiwiteit.
Die hoogtepunt van Vrydagaand was die braaibroodjiekompetisie. Elke leerder moes ’n geheime bestanddeel in hul braaibroodjie insluit. Vier wenners is aangewys, waarna die aand op ’n opwindende noot met lanternbekruip afgesluit is.
Saterdagoggend het die groep die dag met Bybelstudie by die swembad begin. Daarna het die Vrystaat Kettieskietvereniging van 10:00 tot 13:00 ’n kursus aangebied waar leerders nuwe vaardighede aangeleer het. Die kamp is afgesluit met waterspele en ’n gesellige kuier voordat almal huis toe vertrek het.









