Hoërskool Ermelo rugby voer botoon in Noordvaal-uitdunrondte
ADVERTISEMENT
Hoërskool Ermelo rugby voer botoon in Noordvaal-uitdunrondte. Op Saterdag 30 Julie het drie van EHS se rugbyspanne aan die uitdunrondte deelgeneem vir 2022 se Noordvaal-kompetisie vir grootskole. Die o.15A-rugbyspan het kookwaterrugby gespeel en koning gekraai teen Potch Gimnasium met ‘n uitstekende telling van 55-12. Hulle was deurentyd gefokus en het met trots en passie gespeel. Die o.16-span was ongelukkig om met 14-10 te verloor teen Hoërskool Bergsig.
Die atmosfeer op die paviljoen was gespanne toe die eerste span opgedraf het, alhoewel die kleurvolle ballonne en vlae ‘n feestelike atmosfeer geskep het. Tydens die eerste helfte het die rugbyspelers die toeskouers behoorlik laat naels kou. Teen halftyd was daar slegs een punt verskil. Die wedstryd was kliphard, aanskoulik en senutergend. Na halftyd het die Erries die krane behoorlik oopgedraai. EHS se teenstanders het nie ‘n antwoord op die Erries se aanvalle gehad nie en was veral die laaste tien minute heeltyd op die verdediging. Die Erries het ‘n welverdiende sege van 30-17 oor Potch Gimnasium behaal.
Dit was ‘n skolewedstryd wat voorwaar ‘n vertoonvenster vir die spel op skoolvlak in Suid-Afrika is. Die o.15- en eerste span dring deur na die kwart-finaal op Saterdag 6 Augustus te Hoërskool Merensky. Welgedaan, rugby-manne! Die Erries is met reg trots op jul spel en wens julle alle voorspoed toe vir die kwart-finaal!
Diederik van der Walt
CJ van Huyssteen
Marius Nel










