Groot skoene om te vul, sê Grey Kollege SBL nadat skoolhoof sy aftrede aankondig
ADVERTISEMENT
Groot skoene om te vul, sê Grey Kollege SBL nadat skoolhoof sy aftrede aankondig.
Die skoolhoof van Grey Kollege Sekondêr, mnr. Braam van Wyk, het die skool se beheerliggaam ingelig dat hy aan die einde van hierdie jaar gaan aftree ná ’n lang, suksesvolle loopbaan in die onderwys.
“Mnr. Van Wyk speel sedert sy aanstelling vier jaar gelede ’n belangrike leierskapsrol by Grey Kollege. Hy is ’n uitstekende onderwysleier met baie ervaring en kundigheid en Grey het die afgelope paar jaar groot hoogtes bereik met hom aan die stuur,” sê mnr. Jan Harm Greyling, voorsitter van die Grey Kollege-skoolbeheerliggaam.
Die skoolbeheerliggaam sê Van Wyk het sy visie vir die Grey van die toekoms gebou op die grondslag van die skool se ryk kultuur en onderwysgeskiedenis. Sy uitsonderlike insig in mense is duidelik uit die manier waarop hy die skoolgemeenskap kon saamnoer rondom sy doelwitte.Op sy beurt sê mnr. Van Wyk dit is ’n voorreg om sy onderwysloopbaan te kan afsluit by die skool waar hy as jong seun gevorm is.
“Grey Kollege is internasionaal bekend vir die skool se uitnemendheid op alle gebiede, van akademie en sport tot kultuur en sosiale impak. Om aan die stuur te staan van só ’n geskiedkundige onderwysinstelling was ’n groot uitdaging maar ook ’n wonderlike voorreg. As oud-Grey, Grey-ouer en nou ook as skoolhoof sal die Grey-gees altyd in my hart voortleef. Maar vir eers bly my fokus op die res van die jaar, met die belange van die seuns soos altyd my eerste prioriteit.”
Volgens die skoolbeheerliggaam sal die proses om die volgende leier – die twaalfde skoolhoof sedert 1855 – aan te stel, binnekort begin. As deel van die proses werk die skoolbeheerliggaam saam met die provinsiale onderwysdepartement om die voorgeskrewe prosedures te volg.
Die skoolbeheerliggaam wil die Grey Kollege-skoolgemeenskap verseker dat die skool se etos in alle besluite die rigtingwyser sal wees en dat die volgende skoolhoof van dieselfde kaliber as mnr. Van Wyk en sy voorgangers sal wees. Die skoolbeheerliggaam se eerste oorweging bly die beste belange van al die leerders en die oorgangsfase sal dus só bestuur word dat dit nie die skoolprogram ontwrig nie. Intussen sien die skoolbeheerliggaam daarna uit om mnr. Van Wyk se termyn by Grey Kollege op ’n hoogtepunt af te sluit.“Vir Grey is dit ’n eer om mnr. Van Wyk se loopbaan in die onderwys te vier en ons sal toesien dat sy nalatenskap op gepaste wyse geëer word,” sê Greyling.










