Onderhoude-Hoër Volkskool Netbal Eerstespankaptein – Ilzé Vorster
ADVERTISEMENT
Ons gesels met die netbal eerstespankaptein van Hoër Volkskool Graaff- Reinet Ilzé Vorster. Lees die spesiale uitgawe vir die Classic Clash tussen Hoër Volkskool vs Union School hier. Dis propvol spanfoto’s, onderhoude en al die aksie.
Ilzé Vorster
Hoe was die voorseisoen vir hierdie span, en wat het dit vir julle gewys oor die groep se karakter, ingesteldheid en toewyding? As ek eerlik is, was die voorseisoen nie altyd lekker nie. Daar was dae wat ons gewonder het of die bane langer geword het en of die fiksheid ooit gaan ophou! Maar dit het ons gewys wie ons regtig is. Niemand het opgegee nie. Ons het mekaar opgetel, saam gesweet, saam gelag en soms amper saam gehuil. Dit het van ons ‘n familie gemaak, nie net ‘n span nie.
Wat maak vanjaar se eerstespan anders as vorige spanne, en hoekom moet ondersteuners opgewonde wees om julle hierdie seisoen te sien speel? Hierdie span het iets wat jy nie kan afrig nie – ons gee om vir mekaar. Ons speel nie net omdat ons moet nie; ons speel omdat ons vir die meisie langs ons wil veg. Ons gaan beslis nie elke wedstryd perfek speel nie, maar een ding is seker: niemand gaan ooit kan sê ons het nie alles gegee nie. En ek belowe… ons gaan probeer om nie ons afrigter te veel grys hare te gee nie!
Wat gaan deur jou kop in die oomblikke voordat jy die baan in jou skoolkleure betree, en wat beteken daardie geleentheid vir jou persoonlik? Ek besef hoe bevoorreg ek is om die skool se wapen te dra en my skool te verteenwoordig. Ek bid altyd dat God my die krag sal gee om my beste te gee en met die regte gesindheid te speel. Ek speel natuurlik vir my span, my skool en my familie, maar ek speel ook spesiaal vir ons skoolhoof, Juffrou Malan. Sy speel ‘n ongelooflik groot rol in my lewe en het my nog altyd onvoorwaardelik ondersteun, op en van die baan af. Om te weet sy glo in my, motiveer my om elke keer alles te gee. Wanneer ek daardie baan betree, speel ek nie net vir ‘n oorwinning nie , ek speel vir elke persoon wat in my belê het en my gehelp het om te kom waar ek vandag is.
Elke sterk span het sy eie identiteit – hoe sal jy julle span se speelstyl, ingesteldheid en gees beskryf? Ons speel met hart. Ons is die tipe span wat mekaar optel wanneer iemand ‘n fout maak, want niemand is perfek nie. Ons kommunikeer baie, soms dalk bietjie té hard. Maar ons speel met passie, energie en baie geloof in mekaar.
Watter standaard het jy en jou span vir julleself hierdie seisoen gestel, buiten net om wedstryde te wen? Ons wil hê mense moet ons onthou vir ons karakter. Ons wil respek wys, nederig bly en elke wedstryd die baan verlaat met die wete dat ons absoluut alles gegee het. As ons dit regkry, is ons klaar wenners.
Watter wedstryd staan vir jou die meeste uit op die kalender, en wat maak daardie wedstryd so belangrik vir die span? Sonder twyfel netbal interskole teen Gill College. Dis die wedstryd waaroor almal praat lank voor die eerste fluitjie blaas. Die atmosfeer, die skare en die trots om Volkskool te verteenwoordig maak dit ongelooflik spesiaal. Dis die wedstryd waarvoor ons die hele jaar werk.
Wie in hierdie span dink jy gaan mense hierdie seisoen verras, en wat maak daardie speler iemand om dop te hou? Die HV, Lenarsha Saku, want sy bring baie energie na die span en maak uitstekende onderskeppings.
Wat leer hierdie sport by jou skool spelers wat verder gaan as net wat op die baan gebeur?
Netbal het leer ons dat die lewe nie altyd volgens plan verloop nie. Jy gaan foute maak, jy gaan soms verloor, maar jy staan weer op.
As kaptein, watter tipe leier wil jy hierdie seisoen vir jou span wees, en watter voorbeeld wil jy stel? Ek wil nie die kaptein wees wat net praat nie; ek wil die kaptein wees wat eerste hardloop, eerste opstaan ná ‘n fout en eerste iemand optel wanneer sy twyfel. Ek wil hê my span moet weet dat hulle altyd op my kan staatmaak, op én van die baan af.
Wanneer mense julle span hierdie jaar sien speel, wat hoop jy sal hulle ná die tyd oor die groep sê? Ek hoop hulle sê dat ons span het iets besonders . Nie net omdat ons goed netbal speel nie, maar omdat hulle kan sien hoe lief ons vir mekaar is, hoe trots ons op ons skool is en hoe ons nooit opgegee het nie. Aan die einde van die dag gaan mense dalk die telling vergeet, maar ek hoop hulle onthou die hart waarmee ons gespeel het.










