[Onderhoud] Hoërskool Duineveld Eerstespan rugbykaptein – PJ Smit
ADVERTISEMENT
Lees die spesiale uitgawe vir die Classic Clash tussen Hoërskool Upington en Hoërskool Duineveld hier. Dis propvol spanfotos, onderhoude en al die aksie.
AWSUM het die geleentheid gehad om met PJ Smit, Eerstespan Rugbykaptein van Hoërskool Duineveld te praat oor hul voorbereiding, sterkpunte en vooruitsigte vir die seisoen..
Watter spesifieke sterkpunte glo jy het hierdie jaar se span wat julle van die opposisie sal onderskei? Ons het ’n baie mobiele voorry, en ons gaan dit gebruik om ’n hoë-tempo wedstryd te speel wat die opposisie onder druk gaan plaas.
Hoe voel dit om jou skool se eerstespan te lei, en waarop sal jy as leier fokus? Dit is al van laerskool af my droom om vir die Wittes te speel. Om as kaptein uit te draf, is vir my ’n groot eer en voorreg. Ek gaan fokus daarop om my span gedissiplineerd en gefokus te hou – op én van die veld af.
Watter tradisies of waardes maak jou skool se rugbykultuur uniek?Dit is tradisie vir die Wittes om hul hare af te skeer voor Groot Interjol – iets wat ons opgewonde maak en die span se band onder mekaar te versterk. Duineveld staan ook vir goeie waardes op die sportveld bekend en bly altyd nederig en gedissiplineerd.
Watter doelwitte het julle as span vir die seisoen gestel? Ons doel is om ons belangrikste wedstryd van die jaar te wen en die seisoen op ’n hoë noot af te sluit.
Watter wedstryde of toernooie sien julle die meeste na uit? Sonder twyfel sien ons die meeste uit na Groot Interjol. Dis die wedstryd waarvoor ons heel jaar voorberei.
Is daar ’n professionele rugbyspeler na wie jy opkyk, en hoekom? Ek kyk op na Gregan Jansen, wat in 2024 vir die Wittes gespeel het. Ek het die voorreg gehad om saam met hom te speel, en hy is ’n groot rolmodel vir baie spelers in ons skool. Sy werksetiek en geesdrywing inspireer my.
Pj Smit (kaptein)
Ons het ook met die afrigter van dié span, (Stefan van Wyk) gesels:
Wat kan die skool en ouers hierdie Interskole van julle span verwag? ’n Span wat absoluut alles sal gee en tot die einde toe sal veg. Hierdie jaar se span het baie geleer — oor hulself én oor hul spanmaats. Hulle speel met trots, en dit sal beslis op die veld wys.
Hoe berei julle span in die week tot aanloop van Interskole voor? Fisiek hou ons by harde, intense oefeninge – net soos in enige ander week. Ek probeer nie te veel anders doen nie; behalwe vir sekere taktiese aanpassings wat spesifiek vir die wedstryd beplan is, wat dan wel voorkeur kry. Geestelik fokus ons daarop om te glo dat ons goed genoeg is. Ons praat positief oor ons vaardighede en oor die kanse vir ’n goeie uitslag.
Waar sou jy sê lê julle krag hierdie jaar? Ons grootste krag lê in ons eenheid as span. Ons het saam doelwitte gestel en almal weet wat ons bereid is om vir mekaar te doen op die veld.
Wie het die grootste invloed op jou as afrigter gehad? Is daar iemand na wie jy opkyk? Daar is te veel om op te noem, maar my pa het ’n besondere invloed gehad. Sy geestelike leierskap in my lewe het ’n groot impak op my benadering tot afrigting gehad.
Watter boodskap dra jy aan jou span oor net voor hulle die veld betree? Moenie hierdie oomblikke in jou lewe mors nie. Voor jy jou oë uitvee, is dit verby. As jy ’n fout maak, moenie stilstaan en wonder daaroor nie — doen alles voluit, en geniet elke oomblik.










