Hoërskool Swartland o.19 Menloparknetbaltoernooi uitslae
ADVERTISEMENT
Hoërskool Swartland o.19 Menloparknetbaltoernooi uitslae vir 24 – 28 Maart 2023. Die spelers: Tonè Malherbe,Janke Kotze,Chloe Lottering,Christien Vlok,Anika Theart,Cayleigh Mentoor,Rianè Ligthart,Chloé Leng, Zetè Adams,Megan Lombard,Carli Vorster, Lize-Mari Batt, Afrigter Me Sanet Joubert en Spanbestuurder Me Arika Hansen is deur mnr. Albie Steenkamp, op Vrydag 24 Maart om 06:30 voormiddag, met die skool se Quantum bussie na die lughawe geneem. Monde Travel het ons vlugbesprekings gedoen en alles was goed georganiseer. Die span asook bestuur het in die Hoërskool Menlopark koshuis tuis gegaan. Die akkomodasie was gerieflik en skoon. Hoërskool Menlopark se bussie het ons op tyd by O.R. Tambo lughawe opgetel en ons weer veilig teruggeneem op Dinsdag 28 Maart. Mnr. Adri Joubert het ons weer op Dinsdag 28 Maart om 22:30 namiddag by die lughawe opgetel en teruggeneem skool toe, waar die ouers die dogters kom haal het.
Die toernooi was goed georganiseerd en die probleme wat hier en daar opgeduik het ten opsigte van die program en skeidsregters is professioneel en vinnig uitgeklaar en opgelos. Reën en donderweer het die gevolg gehad dat van die wedstryde gekanselleer moes word, maar die organiseerders het dit baie goed bestuur en was die program altyd op tyd. Dankie aan al die beamptes wat hierby betrokke was. Hoërskool Swartland het 9 van hul 11 geskeduleerde wedstryde gespeel. Twee wedstryde was a.g.v onweer gekanselleer.
Dag 1: Saterdag 25 Maart
- vs Ben Vorster – Uitgereën
- vs Wonderboom – Wen 15-12
- vs Drostdy. – Verloor 10-22
Dag 2: Sondag 26 Maart
- vs Secunda. – Verloor 16-27
- vs Brackenfell. – Verloor 12-27
- vs KHS. – Verloor 16-18
Dag 3: Maandag 27 Maart
- vs Merensky. – Verloor 13-22
- vs Volkies. – Wen 21-18
- vs Linden. – Uitgereën
Dag 4: Dinsdag 28 Maart
- vs Prestige College. – Verloor 13-24
Die groep spelers het hul bes gedoen en die lywe was seer na dag 1 se harde, fisiese wedstryde. Daar was slegs 3 van die dogters wat verlede jaar ook deelgeneem het van die groep van 12. Lize-Mari kon ongelukkig nie speel nie as gevolg van ‘n gekraakte pols kort voor die toernooi. Christien Vlok het ook die eerste dag ongesteld gevoel, en het ons haar na ‘n dokter geneem wat vir haar antibiotika voorgeskryf het, en kon sy eers teen Maandag weer begin speel het. Die doele het gesukkel onder die druk van sterk, lang verdedigers, maar hulle het besef dat hulle harder sal moet werk. Ons spelers het regtig goed gevaar en die tellings is nie ‘n juiste weergawe van die tipe netbal wat deur ons spelers gespeel is nie. Elke speler is ook met elke wedstryd die geleentheid gegee om te speel en so het almal eweveel wedstryd-kans gehad. Ons dogters het regtig uitgestaan wat goeie maniere, respek en sportmangees aanbetref.
Hierdie toernooi is verseker die beste voorseisoen-toernooi waar daar geweldige druk is en dit my as afrigters die geleentheid gee om my spanne te finaliseer vir die seisoen. `n Spesiale dankie aan me Arika Hansen vir al haar insette en die manier hoe sy die afrigter en die dogters hanteer het. Me Hansen is nie alleen ‘n sterk spanbestuurder wat raak vat nie, maar ook ‘n uitstekende afrigter. Baie dankie me Hansen vir jou tyd en opoffering om saam met ons te gaan.