[Onderhoud] Corneli Koen: o.19A netbalkaptein van Hoërskool Durbanville
AWSUM het met Corneli Koen, Hoërskool Durbanville se o.19A netbalkaptein gesels oor Interskole teen Hoërskool Stellenberg.
Hoe is die samestelling van die span vir Interskole? Is daar enige beserings? Beserings gewys is ons veilig en het nog geen ernstige beserings opgedoen deur die jaar nie – hier en daar ‘n geswikte enkel of vinger, maar nog niks het ons gekeer om aan te hou speel nie.
Is julle gelukkig met julle resultate die jaar? Ek dink ons is gelukkig met ons resultate, daar is altyd plek vir verbetering en êrens waar jy dalk kon beter doen, maar twee wedstryde wat spesifiek vir my uitgestaan het die jaar was een by Wildeklawer gewees. Ons het teen La Rochelle gespeel en in ekstra tyd gewen. Sowel as ons wedstryd teen Bloemhof waar ons agt doele agter was en met twee gewen het. Ons kon dalk hoop vir beter resultate, maar ons is steeds trots en weet dat ons vir niemand hoef terug te staan nie.
Wat verwag jy van Stellenberg Saterdag? Definitief ‘n fisiese wedstryd en dat hulle hulle alles gaan bring. Stellenberg gaan ook definitief nie moed op gee en dit vir ons maklik maak nie, hulle gaan elke geleentheid wat hulle kry wil gebruik.
Wat beteken dit vir jou om kaptein van DHS te wees? Vir my is dit ‘n massiewe voorreg om kaptein te wees en om die eer te hê om ons span te kan lei. Ek vergeet soms dat ek in die posisie is, want ons is soos ‘n klein familie en ek sien elkeen van my doen nie, want sy het werklik ‘n positiewe dryfkrag en motiveer altyd vir almal. Vir my is dit ook groter as om net ’n voorbeeld te stel van kaptein wees vir my span, maar ook om ‘n voorbeeld te stel vir my skool, my gemeenskap en al ons ondersteuners. Ons as hele eerstespan het die voorreg om ons skool te verteenwoordig en op so manier ons talente van bo te gebruik en te koester. Ek sal my span vir niks verruil nie en is geëerd om die eerstespan netbal van Hoërskool Durbanville 2024 te lei.
Baie mense sal wil weet hoe julle dag van die groot wedstryd verloop tot julle uitdraf. Het julle enige rituele of tradisies? Ons bid altyd voor ons speel, en spring om die senter sirkel voor ons begin. En na die wedstryd sak ons om dankie te sê.
Hoe hanteer julle as span die verwagtinge van julle ondersteuners en toeskouers? Ek dink die belangrikste is altyd om net rustig te bly en wie ookal langs die baan iets se uit te blok, sodat jy kan fokus op jou spel. Ons is baie goed daarmee om mekaar in die stresvolle situasies te herinner om net ons eie game te speel en ons persoonlike beste te gee. Op die ou einde van die dag speel ons netbal omdat ons lief is daarvoor, dit geniet en ‘n passie daarvoor het, en dit is belangrik om te onthou.
Na watter bekende speler (enige sport) kyk jy na op en hoekom? Ek sal sê Tatjana Schoenmaker of nou Smith. Ek dink sy is ‘n ongelooflike voorbeeld van ‘n hardwerkende vrou wat nie moed op gee nie en alles tot die beste van haar vermoëns doen. Sy het ook ‘n verskriklike mooi hart en kom altyd terug na haar tuiste en haar mense toe. Sy het al merkwaardige dinge in haar lewe bereik en pak altyd alles met haar mooi glimlag en positiwiteit aan, ek dink dis iets waarna elke mens kan opkyk.
Lees die spesiale koerantuitgawe vir die naweek aanlyn of kry joune by die skool! Klik hier: