Laerskool Gene Louw Seniorkoor presteer internasionaal
Laerskool Gene Louw Seniorkoor presteer internasionaal. Die Seniorkoor van Laerskool Gene Louw het weereens bewys waarom hulle gereken word as een van die beste skoolkore in Suid-Afrika.
Die koor, onder leiding van me. Marietjie Martinson, het die afgelope kwartaal aan ʼn internasionale koorkompetisie, die “World Youth and Children’s Choral Artists Association Competition” in Hong Kong deelgeneem (inskrywings in video-formaat). Hulle het teen kore van reg oor die wêreld meegeding en het 91.1% vir hul optrede verwerf en daarmee eerste plek in hul kategorie verower. Om alles te kroon en ten midde van baie strawwe kompetisie, is die koor ook aangewys as een van die Top 14-kore uit alle kategorieë van die kompetisie.
Laerskool Gene Louw se Seniorkoor het in die afgelope 20 jaar reeds 10 keer die SA Nasionale ATKV Koorkompetisie gewen en nege keer die tweede plek behaal. Hulle was al 18 keer die wenners van hul kategorie in die Tygerberg Eisteddfod, sewe keer van die Kaapse Eisteddfod en sewe keer van die Stellenbosch Eisteddfod. Die koor het oor die jare al aan talle oorsese kompetisies deelgeneem en hulself elke keer bewys as ʼn wêreldklaskoor. Hulle oefen tans hard ter voorbereiding vir die ATKV Applousfinaal en die Tygerberg Eisteddfod Galakoorfees wat later hierdie jaar plaasvind.