Kriekettoer sukses vir Laerskool Gene Louw
ADVERTISEMENT
Die Laerskool Gene Louw in Durbanville se o.13A-krieketspan het hul seisoen op ’n hoë noot afgeskop met ’n toer na Swellendam van 2 tot 4 Februarie, om teen die Laerskool Swellendam kragte te meet. Die span het die Vrydagmiddag twee ses-aan-’n-kant wedstryde in snikhete weersomstandighede gespeel, gevolg deur ’n 40-beurtwedstryd die Saterdagoggend. Hoewel die Genies hul opponente in elke wedstryd geklop het, glo hul afrigter, Johan Bezuidenhoudt, dat hierdie ervaring op die ou end soveel verder strek as wat die telbord sê.
“Dit gaan nie vir ons oor wen of verloor nie,” sê hy. “In hierdie geval was dit die spelers se eerste toer én hul eerste wedstryd van die seisoen. Die waarde en sukses van so ’n belewenis lê in die geleentheid om mekaar en hulself beter te leer ken, om ervaring op te bou en goeie sportmanskap te ontwikkel. “Elke seun het dit geniet. Dit is ’n baie jong span waarvan ons groot dinge in die toekoms verwag.”

Voor, van links: Eugene Plowman, Matthew Louw, WP Auret, Andrew Murray, Ruben Pienaar, Robert Murray. Agter, van links: Matthys van Tonder, Ethan Lombard, Jacques du Preez, Luan Lubbe, Dilon Kühn.