HS Parel Vallei wen hul eerste A Capella-kompetisie!
By Hoërskool Parel Vallei is daar ‘n plek vir ‘n ieder en ‘n elk en daar is altyd genoeg aktiwiteite vir leerders om hulself ten volle te ontwikkel. Daar word ook voortdurend nuwe, nie-tradisionele na-uurse skoolaktiwiteite soos A Capella by PV se bestaande buitemuurse lysie gevoeg.
PV onderwysers, me Roelene Swanepoel, Edene Mackenzie en Nicolene Murray, het einde 2017 begin met oudisies vir PV se eie A Capella-groep en dadelik was die belangstelling groot. In 2018 het die groep amptelik begin met optredes en vanjaar, op Saterdag, 12 Oktober het hul vir die eerste keer geskiedenis gemaak toe hul deelgeneem het aan die Animato A Capella-sangkompetisie in George waaraan skole uit die Oos- en Wes-Kaap deelgeneem het.

Agter van links: Anoxolo Maqubela; Dylan Janse van Rensburg; Matt Titus; Griffin Poole. Middel: me Nicoline Murray; Elizma van Geest; Louwen Swartz; Natacha le Roux; Nina Matthee; Haylee Meyer; Mary Nkate; Casey Holmes; me Roelene Swanepoel. Voor: me Edene Mackenzie; Carla Heydenrych; Skye Eckstein; Nelis van Geest; Qhawekazi Samson; Megan Salter; Solam Zaku; Dylan Laithwaite.
Vir PV se A Capella-groentjies het dit nie net gebly by deelname nie, hulle het ook die KOMPETISIE GEWEN! Wat ‘n wonderlike prestasie! PV het nie net as die algehele wenners weggestap nie, maar o.a ook met die toekenning vir die beste sang en keurspel verwerking.
Die Hoërskool Pearson van PE, o.l.v. me Anton Steyn, het die tweede plek behaal en ook ‘n toekenning vir die beste choreografie ontvang.
Ander spesiale toekennings was:
- Mees spontane groep: Hoërskool Muir College
- Mees belowende groep: Hoërskool Despatch
- Groep met die mees oorspronklike tema: Hoërskool Despatch
- Beste kostumering en rekwisiete: Hoërskool Muir College
- Beste verwerking in ‘n ander taal: Hoërskool Muir College
- Beste Afrikaanse verwerking: Hoërskool Muir College
Die primêre doel van die Animato A Capella-kompetisie is die bevordering en die genot van ligte musiek in sang en dans onder hoërskoolleerders en dis presies waarna PV se onderwysers streef (en natuurlik ook om hul nuwe titel as A Capella-kampioene te verdedig!).