Ontmoet Hoërskool Jan van Riebeeck se top akademiese presteerder
Emil van der Walt is Hoërskool Jan van Riebeeck se top akademiese presteerder – AWSUM het gaan inloer om uit te vind hoe hy sy uitstekende punte behaal het.
Baie geluk met jou toekenning as die top akademiese student by jou skool. Wat het jou gemotiveer om so hard te werk?
Daar is nie een spesifieke rede nie. Innerlike motivering het ‘n groot rol gespeel. Reg deur die jaar het ek maar my beste gegee met als wat ek aanpak. Kompetisie tussen my en van my vriende op skool het natuurlik ook gehelp.
Wat maak jou skool uniek en waarom dink jy kon jy sulke goeie punte behaal? Wat was die rol wat jou skool en sy onderwysers in jou sukses gespeel het?
My skool het my nog altyd gemotiveer sonder om ‘n oormate druk op my te plaas. Ek kon min of meer op my eie pas werk. My onderwysers het nooit gehuiwer om te help nie, ongeag van wie wat vra of hoe hulle punte lyk nie.
Wat is jou gunsteling vak (en hoekom) en wie is die onderwyser?
Wiskunde is nog altyd loshande my gunsteling vak, want dit bevat net soveel mooi dinge wat mens nooit ten volle sal kan waardeer nie. My onderwyser was juffrou Liza Serrao, wat my nog altyd ten volle ondersteun het.
Wat gaan jy studeer in 2020?
Bsc Rekenaarwetenskap by Universiteit Stellenbosch.
Waar sien jy jouself oor 5 jaar?
Ek sal waarskynlik steeds aan die swot wees…
Hoe sal jy volgende jaar se matrieks motiveer om hul doelwitte te bereik? Watter raad kan jy hulle gee?
Dis jou laaste jaar so maak die meeste daarvan. Dis nooit te laat om te begin hard werk nie. Die beste raad wat ek kan gee is om soveel as moontlik ou vraestelle uit te werk.
Watter stokperdjies geniet jy?
Ek geniet dit vreeslik om vis te vang.
Blitsvra:
- Cappuccino, hot chocolate of tee? Cappuccino
- Braai saam met vriende, wegneemetes of ‘n piekniek? Braai saam met vriende
- TV-reekse kyk, ‘n regstreekse musiekfees of ‘n fliek met popcorn? TV-reekse kyk
- Android of iOS? iOS